Grabouw-betogers met rubberkoeëls verjaag

Foto: @noma_solwandle op Twitter.

Foto: @noma_solwandle op Twitter.

Die polisie het traangas en rubberkoeëls gebruik om meer as 1 000 betogers in Grabouw in die Wes-Kaap te verdryf.

Die polisie het die betogers met rubberkoeëls geskiet nadat hulle in Ou Kaapseweg begin betoog en polisiebeamptes met klippe bestook het. ʼn Gedeelte van die N2 wat verby die dorp loop, moes vroeër Maandag gesluit word nadat betogers verbygaande motors met klippe bestook het. Die betogers het ook olie op die pad gegooi en later bande aan die brand gesteek.

Die betogers het in Gaffleystraat bymekaargekom en na die munisipale kantore in Pineview opgeruk waar hulle ʼn memorandum van griewe oorhandig het. Die onlustepolisie is ontbied en Njala-pantservoertuie en waterkanonne is gebruik om die betogers onder beheer te hou.

Chris Punt, burgemeester van Theewaterskloof het die memorandum in ontvangs geneem. Gemeenskapsleiers het die skare toegespreek waarna hulle die munisipale kantore verlaat en begin klippe gooi het.

Dit is die tweede betoging in die afgelope paar weke. Die betogers is onder meer ongelukkig oor ʼn gebrek aan behuising, die prys van elektrisiteit en swak paaie.

Die Theewater-munisipaliteit het intussen gesê Eskom verskaf die elektrisiteit aan Grabouw en nie die munisipaliteit nie. “Ons het ʼn padinstandhoudingsprogram om die paaie in ʼn behoorlike toestand te hou, maar sal ondersoek instel na die stand van paaie wat in die memorandum geopper word.”

Die ANC in die Wes-Kaap en die SAKP het sy ondersteuning aan die betogers uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.