Herrie oor Feed a Child-advertensie

Skermskoot uit die advertensie

Skermskoot uit die advertensie

Die advertensie volg onderaan die berig. Die organisasie Feed a Child het hewige reaksie uitgelok met sy televisie-advertensie waar ʼn wit vrou ʼn swart kind “voer”.

Die advertensie, wat ook op YouTube te sien is, wys hoe die vrou die swart kind “versorg” deur vir hom allerhande soorte kos te voer. Uiteindelik verskyn die woorde op die skerm: “Die gemiddelde troeteldier eet beter as miljoene kinders. Help om ʼn honger kind kos te gee.”

Volgens Arnau van Achterbergh, besturende direkteur van die organisasie, spits die organisasie hom daarop toe om ondersteuning te bied aan kinders wat honger ly weens armoede en wanvoeding in Suid-Afrika. “Ons hoofdoel is om mense bewus te maak van die feit dat daar duisende kinders is wat nie eers toegang het tot een maaltyd per dag nie,” het Van Achterbergh aan Maroela Media gesê.

Hy voeg by die organisasie het doelbewus die advertensie só vol emosie gemaak om die noodsaaklike bewustheid te kweek. “Dit was glad nie ons doel om aanstoot te gee nie,” het hy bygevoeg.

Jaco Strydom van ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek, sê dit lyk vir hom soos ‘n baie doeltreffende advertensie. “Dit skok ’n mens nogal,” het Strydom aan Maroela Media gesê. “Partykeer is die een wat rassisme oral sien, die eintlike rassis, ons is mos maar almal bietjie blind vir onsself? Meeste van die meer as 4 miljoen weeskinders in Suid Afrika is swart. Dis ’n feit.”

Van Achterbergh sê die kommentaar wat hulle tot dusver ontvang het was hoofsaaklik positief.

Hier volg van die kommentaar wat die organsisasie ontvang het. Let asseblief daarop dat van die kommentaar deur Maroela Media vertaal is.

Hennika Burger het geskryf: “Dit bring die boodskap goed oor. Soms is die situasie omgekeer – maar die beginsel bly staan… miljoene kinders gaan honger. Seën vir die organisasie.” [sic]

TheLynx73 skryf: “Jy hoef nie vir die advertensie om verskoning te vra nie, Arnau. Dit dra ʼn sterk boodskap oor en verdien nie om op die ras van die karakters beoordeel te word nie.” [oorspronklike kommentaar vertaal]

Charles Meyer: “Baie doeltreffende advertensie, maar in Suid-Afrika waar alles ʼn rasse-debat word, sal dit ʼn goeie idee wees om ʼn ‘reeks’ soortgelyke advertensies te hê.” [oorspronklike kommentaar vertaal]

Charmaine Gxilishe: “Aaklige advertensie, so wreed en ontstellend. Dit is ʼn belediging vir kinders en die spesifieke rasse. Julle kon ʼn regte hond gebruik het om klem op die storielyn te plaas. Julle het ʼn interessante besluit geneem deur ʼn wit vrou en ʼn swart kind te gebruik. Ek het so afkeur en julle het geen respek vir die menslike ras nie.” [oorspronklike kommentaar vertaal]

Martin van der Walt: “Dit is nie die waarheid nie. Dit wys wit mense is altyd ryk en onderdruk die Afrika-kinders. Hierdie advertensie is rassisties en moet verwyder word en verbied word en nie meer gewys word nie.” [oorspronklike kommentaar vertaal]

Op Twitter skryf die gebruiker ‏@toinettelab: #FeedAchild advertensie is briljant. Dit stel die feite en laat mense as ʼn gevolg daarvan ongemaklik voel. [oorspronklike kommentaar vertaal]

‏@PoundSA skryf: Daardie #feedachild advertensie is so walglik. Iemand moet iets doen. [oorspronklike kommentaar vertaal]

Indien persone direk met die organisasie in verbinding wil tree, kan hulle ʼn e-pos stuur na [email protected]. Mense wat ʼn bydrae wil lewer kan die woord “child” na 40014 SMS. Elke SMS kos R20 of klik hier vir meer besonderhede.
http://youtu.be/qkR_MXdwkqk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Elizabeth ·

Ag toggie… ek dink die advertensie wys nie alle wittes is RYK nie, dis eintlik witmense wat meer welsynorganisasies ondersteun. FEIT! Ek verstaan waaragtig nie waaroor die hoe-haa eintlik is nie, dis absoluut belaglik. Mense ruk altyd alles uit verband en gooi dan gou die rassis kaartjie by!

Waks ·

Die advertensie maak nie sin nie die kind word dan soos ‘n brakkie uitgebeeld en nie ‘n mens nie hoekom sit daai swart kind nie aan tafel saam met die wit vrou wat voor ‘n bord kos sit en voer wragtag die kind ‘n stukkie van whatever sy eet. M.aw. swart kinders is almal honger of wat beeld die advertensie uit.

Paul ·

Jy mis die punt van die advertensie. Dit plaas die kind doelbewus in die plek van ‘n troeteldier om aan te toon dat talle mense hul troeteldiere beter kos gee as wat weeskinders of ander arm kinders kry om te eet.

Linda ·

Hierdie advertensie blaas haatspraak aan – dit gee die indruk dit is hoe wit mense swart mense behandel – vieslike advertensie.

estelle ·

linda kyk jy gereeld tv, dan sal jy sien dat ‘n groot meerderheid advertensies die blanke afbreek! vat maar die versekerings advertensie waar die swart man sonder petrol gaan staan in ‘n blanke area en hoe dit uitgebeeld word, die advertensie wereld speel albei kante toe!!

Meisie ·

Ek dink ook dit is `n aaklige advertensie, maar as dit so vreelike reaksie uitlok.. het dit mos geslaag in die doel ! Om meer mense van die feit bewus te maak, of om mense weereens raadvan bewus te maak, Alaml weet dit , maar ek dink mense is net geneig om daarvan te vergeet!! As dit dan so groot probleem is, doen die advertensie oor en sit `n wit kind daarby , saam met die swart kind, dan kan niemand mos kla nie. Feit is, hoe meer skokkend of simple `n advertensie is , hoe meer onthou mense dit!!

Jas van As ·

Ag jislaaik! Waaroor is die vreeslike bohaai nou eintlik? Die advertensie maak in elk geval nie sin nie. Dit bring regtig nie die boodskap oor wat hulle wou bereik nie, en ek stem saam met Estelle, die blanke word in die meeste advertensies afgekraak as agterlik. Die boodskap wat die advertensie oordra, is om jou vyand te voer. (My mening.)

Paul ·

Jou mening is verkeerd.

Die boodskap van die advertensie is aan mense om, volgende keer as hulle vir hul troeteldiere lekker kos voer, bietjie daaraan te dink dat daar kinders is wat minder kos het om te eet as daardie troeteldier.

jolene Nel ·

Ek stem saam 100% van estelle. Ek kyk baie tv en soms van hulle probeer afkraak van wit en swart. So seker kleurblind. Kinders dink anders as ons grootmense.

Ian ·

Nou ja. Kom ons draai die rolle so ‘n bietjie om, en dan is dit min of meer hoe dit lyk: daar sit ‘n wit kind – en niemand voer hom nie.

Sandy ·

As dit aanstoot gee moet dit dan nie kyk nie. So maklik soos dit.

amelia ·

Vieslike advertensie My redenasie is as elke ouer nie vir sy kind kan sorg nie hoekom bly kinders in die lewe bring Sekere “mense maar net te gewoond om te ontvang ander moet maar werk vir wat hul het en al sou van ons meer kinders wou he kan ons dit nie bekostig nie so as jy nie vir kinders kan sorg nie sorg dat jy dan net een het (Ek ondersteun net die wat werk en klein salaris verdien en wat regtig hard prober om iets aan hul omstandighede te doen) gee boere die grond dat daar weer kos geproduseer kan word wat ons eie land se mense kan koop

Babs ·

Hoekom altyd wit en swart. Hoekom nie twee swartes of twee wittes. Ek is geen rassis maar is keelvol vir advertensies waar kleur ‘n rol speel. Wanneer ek in ‘n sentrum loop en ek sien sommige paartjies wat skielik jammer gevoel het vir ‘n swart kindjie, en sonder om aan die toekoms te dink een aangeneem het, voel dit of my bloeddruk styg. Vir party is dit soos om ‘n klein hondjie aan te neem maar wanneer hy groot is, is dit bietjie moeiliker om te voorsien in die nodige. Ek hou nie van die tipe advertensies nie en glo daar is ander maniere om fondse te in vir minder bevoorregdes van alle bevolkingsgroepe.

Jannie ·

Laat my dink wat sou die reaksie wees as dieselfde kriteria gebruik sou word om n “Stop Plaasmoord” advertensie te maak.

Ivanda Venter ·

Ek dink die advertensie is in goeie smaak gedoen. Ek self het nie kinders maar twee honde en baie dae weet ek hulle word bederf en eet beter as kinders. Die advertensie het my nou aangespoor om meer te doen vir kinders, maar ongelukkig is daar ook diere wat honger ly. Swaarkry is aan die orde van die dag, oumense, jongmense, wit, swart, jonk, oud, mens en dier.

Marlene ·

Regtig…….hoekom het hulle nie n hond gebruik nie. Daar waar daai opneus vrou aan tafels sit en eet uit n bord met mes en vurk en die kind sit soos n skoot hondjie en bedel. Nee wragtig man. Die advertensie is onsmaaklik

Belinda ·

Ek stem saam dit is n rassistiese advertensie dit wys ons wittes het geld en voer hulle ek dink soos amper die hele S.A. sal dink en hoekom is daar nie n wit kind dan gebruik vir die advertensie nie…………nee swak swak swak die hoekom Malema sal aanhou ons is net nog te veel in groot poste en in duur huise agv die tipe dinge!

Machiel Nel ·

Na ek die advertensie gekyk het, het ek dadelik vir my Labrador ‘n steak gaan gaarmaak……

Rianto van Reenen ·

Laat elkeen wat kritiseer na homself kyk en vra “wat doen ek, het ek gedoen om enigsins ‘n verskil te maak, of die situasie te verbeter vir kinders wat honger ly”. Indien jy ‘n gewer is, wel gedaan. Indien jy nie is nie, steek die kritiek in jou sak, en doen iets konstruktiefs om ‘n positiewe bydrae te maak. Die advertensie het sy tekortkominge, maar die boodskap is oorgedra, daar is ‘n behoefte – so raak betrokke en gaan maak ‘n verskil !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.