Hof hoor oor Zuma-SMS

nkandla sms

Skermskoot van die SMS (Foto via @democraticalliance, Twitter)

Die Johannesburgse hooggeregshof het Woensdag uitspraak voorbehou in die dringende aansoek deur die ANC teen die DA oor ʼn teksboodskap oor pres. Jacob Zuma.

Waarnemende regter Mike Hellens het die regspanne van albei partye versoek om teen Donderdag aan hom voor te hou of hy die uitspraak in die verkiesingshof, die hooggeregshof of albei maak. Dit sal glo bepaal wat die uitspraak kan wees. Hy het vroeër aangedui dat hy voor Vrydag sy uitspraak sal lewer.

Ismail Jamie SC vir die Demokratiese Alliansie, voer aan dat sy kliënt nie gestel het dat die Openbare Beskermer se verslag gesê het dat Zuma die belastingbetalers se geld gesteel het nie. Hy sê dit het “gewys” dat hy staatsgeld gesteel het om sy Nkandla-huis te bou. “Die DA glo dat dit wat plaasgevind het, neerkom op kriminele gedrag. Hy het klagtes gelê,” het Jamie gesê.

Jamie het gedeeltes van Thuli Madonsela se verslag, genaamd “Secure in Comfort”, aan die hof voorgehou. Madonsela het in die verslag bevind dat Zuma wel bewus was van die veiligheidsopgraderings, gekla het oor die vensters en versoek het dat ʼn veekraal gebou moet word. Jamie het Madonsela aangehaal waar sy sê die projek was “ʼn lisensie vir plundery… wat deur die regering geskep is”.

“Die Openbare Beskermer het nie bevind dat Zuma geld gesteel het nie, maar ʼn redelike persoon kan die afleiding maak dat dit wat gebeur het wanbesteding vir persoonlike gewin was,” het Jamie bygevoeg. “Die begunstigde is die eerste persoon wat die Grondwet moet beskerm.”

Jamie het die DA verdedig nadat hy 1.5 miljoen SMS’e aan voornemende kiesers in Gauteng gestuur het. “Die Nkandla-verslag wys dat Zuma jou geld gesteel het om sy huis van R246 miljoen te bou. Stem DA op 7 Mei om korrupsie hok te slaan. Saam vir verandering.”

Die ANC wil hê die DA moet die SMS terugtrek, ophou om dit te stuur, en om verskoning vra aan die regerende party, of met R200 000 beboet word.

Gcina Malindi SC vir die ANC, het aangevoer die SMS is in stryd met die Verkiesingswet en gedragskode. Hy sê selfs al glo die publiek dat Zuma die geld gesteel het, dit nie beteken dat ʼn politieke party dit kan sê nie, veral nie ʼn maand voor die verkiesing op 7 Mei nie. “Ons moet die gedragskode en beloftes nakom wat op die vooraand van die verkiesing onderteken is,” het Malindi gesê.

Malindi het die DA daarvan beskuldig dat hy woorde in die verslag verdraai. Hy sê die ANC se beswaar teen die SMS het ten doel om ʼn regverdige verkiesing te bevorder. “Die boodskap kan die wisselvallige atmosfeer in die verkiesing verhoog. As dit voortduur, weet ons almal waarheen dit sal lei,” het hy gesê.

Hy sê die verkiesings was sedert 1994 nog redelik vreedsaam.

Jamie sê die ANC se aansoek handel oor ʼn balans tussen die DA se reg tot vryheid van uitdrukking en die reg tot ʼn ordelike verkiesing. “Nie een van hierdie regte is absoluut nie, en dit is ʼn tekortkoming in die ANC se argument,” het Jamie bygevoeg.

Malindi voer aan die DA se SMS maak ʼn feitelike bewering wat gevoelens oor Zuma se karakter ontsteek. “Die DA stel ʼn feit en glo dat die bewering die waarheid is.” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.