Juffrou gesleep: Armand sing liedjies vir sy ma

Armand Leyden

Armand Leyden

Armand (5) stuur per selfoon liedjies vir sy ma, Suzanne Leyden, wat steeds in ʼn koma is nadat sy verlede Donderdag etlike meter ver in Sandton, Johannesburg deur ʼn bakkie saamgesleep is.

Armand het hul gunstelingliedjie, Superman, gesing en stemboodskappe vir sy ma op sy tannie en Suzanne se sussie, Marlize Leyden,  se selfoon laat opneem. Marlize speel dit wanneer sy Suzanne in die Millpark-hospitaal se intensiewesorgeenheid, waar sy in ʼn geïnduseerde koma gehou word, besoek. Kinders word nie in die eenheid toegelaat nie. (Luister gerus na die klankgreep onderaan die berig.)

Suzanne Leyden.

Suzanne Leyden.

Volgens Marlize reageer Suzanne op aanraking en klank, veral as sy haar seuntjie se naam en stem hoor.

Marlize het Woensdag laat weet haar suster se toestand is nog dieselfde, maar die dokters het reeds begin om die verdowing te verminder. “ʼn Vriendin het haar gaan besoek. Sy het dadelik haar oë oopgemaak toe ek praat,” het Marlize gesê. “Sy het haar oë seker vir ‘n minuut lank oopgehou en stadig geknip.”

Maroela Media het vroeër berig Leyden (36) het ʼn ernstige breinbesering opgedoen en word tans onder verdowing en gekoppel aan ʼn ventilator gehou om seker te maak dat die swelsel op haar brein en bloeding op haar brein sak.

Leyden, ʼn Afrikaans-onderwyseres by Hoërskool Sandown in Sandton, was Donderdagoggend op pad skool toe, toe sy omstreeks 07:00 in ʼn geringe botsing by die William Nicol-rylaan en Sandtonweg-kruising betrokke was. ʼn Ooggetuie wat langs die pad gestaan het, het gesien hoe ʼn wit man in ʼn wit bakkie glo Leyden se wit Audi A4 van agter tref. Toe sy hom nader om kontakbesonderhede uit te ruil, het die twee glo begin stry en sy het haar arm in die voertuig gesteek om moontlik sy sleutels af te neem. Die man het na bewering begin wegry en Suzanne saamgesleep.

Deon Schoeman (48), die bestuurder van die betrokke bakkie, het Dinsdag in verband met die voorval in die Hillbrow-landdroshof verskyn. Hy staan tereg op aanklagte van roekelose of nalatige bestuur asook tref-en-trap. Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat en moet weer op 22 Januarie volgende jaar in die hof verskyn.

Lees die vorige berigte oor Suzanne Leyden hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karen ·

Sjoe om te luister na haar seuntjie wat vir haar sing en die mooi boodskappie los, laat mens emosioneel voel. Ek probeer nog steeds verstaan hoe die man kon doen wat hy gedoen het. Kyk ons almal raak kwaad, maar regtig??
Ek hoop Suzanne herstel ten volle, baie sterkte vir haar en haar familie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.