Limpopo-vrou doodgeskiet, dogter gewond

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 63-jarige vrou is Dinsdag in haar huis in Limpopo doodgeskiet tydens ʼn voorval waarin haar dogter geskiet en gewond is.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê ʼn man het glo by die vrou se huis in Sasekani in Ritavi ingestorm sonder om enigiets te sê. “Die vrou het hom gevra wat fout is, waarna hy op die vrou en haar 40-jarige dogter losgebrand het,” het Ngoepe gesê.

Die polisie het albei vroue in ʼn plas bloed met veelvoudige skietwonde aangetref. Die vrou is op die toneel dood verklaar. Die dogter is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.

“ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die 35-jarige verdagte verlief was op die oorledene se jonger dogter,” het Ngoepe gesê.

Die twee het glo baklei. Dié dogter was nie by die huis tydens die skietery nie. Die polisie vermoed die motief vir die aanval hou verband met huishoudelike geweld.

Die vermeende skieter het in ʼn wit Volkswagen Polo saam met twee ander mans gevlug. Ngoepe het gesê die polisie het inligting ontvang dat die mans onderweg was na Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.