Die moordbeskuldigde George Louca moes Woensdag in die landdroshof in Kempton Park ʼn verduideliking gee waarom hy in ʼn ander saak onder die naam “George Smith” vervolg word.
Owen Blumberg, vir Louca, het bevestig dat dit dieselfde persoon is, maar kon nie verduidelik waarom Louca homself onder ʼn ander naam identifiseer het nie.
Die veiligheid is opgeskerp tydens die verhoor en swaar gewapende lede van ʼn spesiale taakmag was in die hof.
Louca, van Ciprus, word beskuldig van die moord op Lolly Jackson, die voormalige eienaar van die Teazers-ontkleedansklubs. Hy staar ook aanklagte van geldwassery en diefstal in die gesig.
Hy is ʼn paar weke gelede aan Suid-Afrika uitgelewer nadat verskeie appèlaansoeke misluk het. Hy het uit Suid-Afrika vertrek na Jackson se moord op 3 Mei 2010 by ʼn huis in Edenglen, Johannesburg. Louca het glo vir Joey Mabasa, hoof van misdaadintelligensie, geskakel om vir hom te sê hy was aanwesig toe Jackson vermoor is.
Lt.genl. Solomon Makgale het in daardie stadium gesê die Valke ondersoek ʼn aantal sake waarby Louca moontlik betrek word.
Louca se saak is tot 12 Mei uitgestel, aangesien die forensiese kenner wat moes getuig, tans by Oscar Pistorius se moordverhoor betrokke is.
Landdros Eric Mhlari het gesê Louca bly in polisie-aanhouding by ʼn onbekende ligging. Hy het diegene, wat moontlik weet waar Louca aangehou word, gewaarsku om nie die plek bekend te maak nie. -SAPA
Live by the sword, die by the sword.