Man en vrou vas vir Nyoni-plaasmoord

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn Man en ʼn vrou is Vrydagoggend in hegtenis geneem in verband met die aanval op ʼn plaas in Nyoni, KwaZulu-Natal, waartydens een man doodgeskiet is en sy broer ernstig beseer is.

Kol. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het gesê ʼn taakspan het in die vroeë oggendure ʼn 42-jarige man en 53-jarige vrou vasgetrek. Naicker wou nie meer inligting oor die verdagtes en die omstandighede rondom hul inhegtenisname bekendmaak nie.

“In hierdie stadium kan ons niks meer sê nie. Ons sal beslis binnekort nog verdagtes in hegtenis neem, maar ons kan nie nou bekend maak hoeveel nog gesoek word nie. Ek kan net bevestig die ondersoekspan is warm op hul spoor,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Peter Johnson (56) is dood en sy broer, Ian (54) is ernstig beseer toe hulle Dinsdagaand omstreeks 19:00 op hul plaas deur drie gewapende verdagtes oorval is. Peter is op die toneel dood, terwyl Ian na ʼn hospitaal gehaas is. Een van die broers se vrou was ten tyde van die voorval in die huis, het Naicker gesê.

ʼn Saak van moord, poging tot moord en gewapende roof word ondersoek.

Die provinsiale kommissaris, lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, het die taakspan geloof vir die vinnige inhegtenisname van die twee verdagtes. “Dit is die belangrike deurbraak waarvoor ons gewag het en dit is net ʼn kwessie van tyd voordat die ander verdagtes ook aangekeer word. Baie geluk aan ons toegewyde polisiebeamptes wat volhard het terwyl die spoor nog warm was en nie opgegee het nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hein ·

Goeie werk ouens, baie dankie dat julle die gemors van die strate afhaal!

pop ·

Vang asb ook net die oorblywendes want niemand is veilig met sulke skuim op vrye voet nie.

anet ·

En moet asseblief nie vir hulle borg toestaan nie. Hulle het een persoon vermoor en een persoon ernstig beseer. Hulle moet asseblief uit die samelewing verwyder word, want hulle is MOORDENAARS VAN WEERLOSE BOERE EN OU MENSE!!!!!

Hannie ·

Watter reg het ‘n moordenaar op lewe? Die doodstraf is sogenaamd “onmenslik”, maar die lewe wat hy neem, nie! Hoe belaglik. Baie van hierdie uitvaagsels moor net weer as hulle vrygelaat word, want hulle het geen respek vir ‘n lewe nie. Suid-Afrika se moordstatistiek is hemelhoog nadat die doodstraf afgeskaf is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.