Montecasino-lyk: Staat sal moord met voorbedagte rade bewys

Die voormalige ontkleedanseres Maruschka Robinson en Jean-Pierre Malan (agtergrond) in die hof Foto: Werner Beukes/SAPA

Die voormalige ontkleedanseres Maruschka Robinson en Jean-Pierre Malan (agtergrond) in die hof Foto: Werner Beukes/SAPA

Die staat het Woensdag in die Randburgse landdroshof gesê Maruschka Robinson het die misdaadtoneel uitgewys waar Dustan Blom vermoor is voordat sy liggaam in die kattebak van sy motor geprop en dit in die parkeergebied by Montecasino opgespoor is.

Staatsaanklaer Yusuf Baba het vroeër gesê Robinson het ʼn skuldbekentenis afgelê.

Robinson, ʼn voormalige ontkleedanseres, het saam met Jean-Pierre Malan vir die moord in die hof verskyn.

Blom se ontbinde liggaam is in September 2013 opgespoor nadat veiligheidsbeamptes ʼn slegte reuk uit die motor geruik het. Robinson is op 24 September in hegtenis geneem en Malan op 26 September.

Die staat sal verdere inligting aan die verdediging verskaf oor die uitwys van die misdaadtoneel. Foto’s van waar die moord gepleeg is, ʼn toksikologieverslag en uitslag van ʼn nadoodse ondersoek sal ook beskikbaar gemaak word.

Baba sê die staat sal getuienis lewer dat Robinson betrokke was by Blom se vrylating nadat hy in Mei 2013 vir dronkbestuur aangekla is. “Robinson het toegang gehad tot Blom se bankkaarte, paspoorte en ʼn identiteitsdokument voordat hy gesterf het.”

Die staat sal moord met voorbedagte rade bewys, het Baba gesê.

Ander bewyse sluit kringtelevisiebeeldmateriaal in wat by Montecasino geneem is, vingerafdrukke op die oorledene se motor, Malan se vervalsde rybewys, en sy vier identiteitsdokumente.

Die saak is tot 1 April uitgestel.

In ʼn ander saak het vier mans, wat daarvan beskuldig word dat hulle Blom bedrieg het, in dieselfde hof verskyn. Die broers Louis en Heinrich Coetzee en Ian Manyika en Alex de Kooker staar elk twee aanklagte van bedrog in die gesig. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle meer as R100 000 uit Blom se bankrekening onttrek het. Die saak is tot 3 April uitgestel omdat De Kooker nie in die hof was nie. -SAPA

Lees ook:
Vrou bely oor Montecasino-lyk
Montecasino-lyk: Twee weer in hof
Gewapende mans soek glo dossier
Montecasino-moord: “Dis ‘n ingewikkelde saak”
Twee weer in hof vir Montecasino-moord
Montecasino-lyk: Vier in hof vir bedrog
Montecasino-lyk: Nog vier persone vas
Montecasino-lyk: Twee bly in aanhouding
Montecasino-lyk: Twee weer in hof
Montecasino-lyk: Verdagte se bloed moet getoets word
Montecasino-lyk: Albei verdagtes vandag in hof
Montecasino-lyk: Verdagte in hof met vloekwoord op frokkie
Montecasino-lyk: Man vas
Montecasino-lyk: Oud-ontkleedanseres in hof
Vrou vas vir Montecasino-lyk
Gru-vonds by Montecasino

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.