Moord dalk nooit opgelos oor polisie se brouwerk

crime scene tapeAlbert van Vuuren (45), ʼn drankwinkelbestuurder van Bronkhorstspruit wat tot lewenslange tronkstraf gevonnis is vir die moord op sy vrou Monica, hoor dalk volgende week of hy ʼn vry man gaan wees.

Drie regters van die Pretoriase hooggeregshof het Woensdag uitspraak voorbehou tot volgende Woensdag, nadat Van Vuuren teen sy skuldigbevinding appelleer het. Die regters het argumente aangehoor en die polisie skerp gekritiseer oor die manier waarop hulle die ondersoek hanteer het.

Monica was glo ʼn tingerige vrou en het in Julie 2010 in haar kombuis gesterf nadat sy 25 keer met ʼn mes gesteek is. Haar kakebeen en nek was ook gebreek.

ʼn Patoloog het bevind sy het gesterf weens ʼn rugbesering en steekwonde aan beide kante van haar bors wat haar hart binnegedring en veroorsaak het dat haar longe platval. Volgens die patoloog was dit ʼn pynlike dood. Sy is nog ses keer met die mes gesteek ná sy gesterf het.

Van Vuuren het tydens sy verhoor getuig dat hy die aand van sy vrou se moord ʼn kalmeermiddel saam met alkohol gedrink het en nie kan onthou wat gebeur het nie.

Die hof het egter Van Vuuren se vriend wat by die egpaar gewoon het, se getuienis as waarheid aanvaar. Gordon McCullum, die vriend, het tydens die verhoor getuig dat Van Vuuren daardie aand baie aggressief was en dat Van Vuuren hom glo later wakker gemaak het en om te sê hy het sy vrou vermoor.

Maar McCullum se eie baadjie was egter vol bloed en hy het glo vir die polisie gejok en gesê Van Vuuren het die baadjie aangehad. Hy het beweer hy het nie ʼn sleutel vir die huis gehad nie en kon nie verduidelik hoe R13 000 uit ʼn geslote kombuiskas verdwyn het, of wie probeer het om die toneel skoon te maak nadat die polisie die huis gesluit het nie.

McCullum het erken hy is bipolêr en word dus gereeld in psigiatriese hospitale opgeneem en dat hy gereeld ʼn groot hoeveelheid alkohol met sy voorskrifmedikasie meng.

Volgens regter Hans Fabricius het die polisie vir een of ander rede nie enige forensiese ondersoek gedoen nie.

Fabricius wou weet waarom niemand probeer het om te bepaal waar Van Vuuren se steekwonde aan sy kop en hand vandaan gekom het en waarom hy nie ondervra is oor ʼn verklaring van ʼn ooggetuie wat beweer het die egpaar is die aand aangeval nie.

Volgens Fabricius is daar verskeie raaisels in die saak wat nooit opgelos is nie.

“Die polisie het op ʼn man afgekom wat ʼn baadjie vol bloed aangehad het, en het nie eens die moeite gedoen om te bepaal wie se bloed dit is nie. Die hele huis was vol bloed,” het Fabricius gesê. “McCullum het gewoonlik ʼn half liter brandewyn gedrink en dit met sy medikasie gemeng. Hy het self erken dat hy dit jare lank gedoen het. Hy het ʼn bebloede baadjie aangehad, vir die polisie daaroor gelieg en, tot almal se verbasing, word hy as ʼn betroubare getuie aanvaar.” Fabricius wou weet hoe so iets kon gebeur.

“Nóg ʼn man het onverklaarbaar verdwyn en is nie weer gesien nie. Die polisie het beslis nie hulle werk gedoen nie. Geregtigheid het definitief nie geskied nie,” het Fabricius bygevoeg.

Hannes Greeff, vir Van Vuuren, het gesê elke polisiebeampte in die saak het bykans 100% versuim om sy of haar plig te doen. Hy het aangevoer al die getuienis dui daarop dat McCullum iets met die moord te doen gehad het, en probeer het om van bewysstukke op die toneel ontslae te raak.

Greeff het dit benadruk dat die hof nie hoef te bepaal wie die moord gepleeg het om sy kliënt op die moord vry te spreek nie. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SKANDE! ·

So, die polisie het opgemors (weereens) en nou kom iemand wat toegesluit behoort te wees dalk los! Wat volgende? Hy moet maar met sy gewete saamleef, dis al wat ek weet.

juanita vorster ·

Hi wil net graag ook iets se ek ken vir Albert baie jare as hy sy vrou wou doodmaak , sou hy haar eerder geskiet het , Albert was baie lief vir Monica ,Gordon weer kon nie gou genoeg almal bel om te se Albert het sy vrou vermoor nie hy was van die begin af verdag , hoekom het hy die bebloede baadjie aangehad nee hoor Albert is n sag geaarde mens en sou dit nooit gedoen het nie , jammer maar sy vriende wat hom persoonlik geken het weet van beter !!!!! hy het 2 jaar verniet gesit omdat die treurige polisie nie hulle werk gedoen het nie !!!!! en die eintlike moordenaar op vry voete is ek ken ook vir Gordon baie goed !!!! nee hoor Albert moet saamleef met die wete dat sy vrou vir ewig weg is en hy haar nie kon help nie , en dink mooi albert het n steekwond agter sy nek gehad en by sy duim en voorkop iemand het hom aangeval kry eers julle feite reg en spoor die regte moordenaar op Albert my vriend God slaap nie geregtigheid sal geskied al jou vriende staan vas agter jou jy is n awsome mens en verdien geregtigheid

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.