Motsoeneng soek lisensies vir joernaliste

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng, waarnemende hoofbedryfsbeampte van die SAUK, het voorgestel dat joernaliste ʼn lisensie moet hê om te praktiseer, soortgelyk aan dokters en prokureurs, het die uitsaaier Donderdag berig.

Motsoeneng het glo gesê joernaliste wat onprofessioneel optree, moet hul lisensies verloor. “Wanneer jy ʼn joernalis is, is jy ʼn professionele joernalis. As jy nie etiek en beginsels het nie en jy mislei mense deur jou verslaggewing, of as jy enige fout maak, dan verloor jy jou lisensie,” het hy glo gesê. “Soos wat ons met prokureurs maak, moet ons met joernaliste doen, as ons Suid-Afrika wil bou.”

Motsoeneng het by die jaarlikse Joburg Radio Days by Wits-Universiteit in Johannesburg gepraat.

Intussen het Gavin Davis, DA-LP, in ʼn verklaring gesê Motsoeneng moet uit sy amp verwyder word. “Daar is geen rede waarom hy nog in sy amp by die SAUK moet wees nie,” het Davis gesê. “Motsoeneng het vandag bevestig waarom die SAUK hom onmiddellik moet skors. Sy uitlatings is nie die deurdagte menings van ʼn verantwoordelike en onafhanklike openbare uitsaaibeampte nie.”

Volgens Eyewitness News het Motsoeneng gesê die media berig slegs oor korrupsie omdat die land deur swartmense regeer word.

Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, het in Februarie ʼn verslag vrygestel waarin sy bevind het dat Motsoeneng se aanstelling onregmatig was. Sy salaris het ook onder andere van R1.5 miljoen na R2.4 miljoen in een jaar gestyg. Sy het ook bevind dat hy nie matriek geslaag het soos hy aangevoer het nie en het voorgestel dat hy vervang moet word. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

veronica ·

Nou kyk, nou het ek alles gehoor!! Tot die belaglikste van belaglik!! Ter versagting kan ek maar net sug: “Siestog! Hy het nie eers matriek nie! Seker maar daarom dat hy nie mooi kan dink wat hy sê nie!!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.