Nuuskommentaar: Ope brief aan pres. Jacob Zuma

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

Pres. Jacob Zuma,
Uniegebou, Nkandla, Luthulihuis, Davos,
P/A ANC Wrecking Ball Co

Geagte Nommer Een

U hoef werklik nie bang te wees om die brief te lees nie. Ek sal glad nie na die DA se SMS dat u skelm is verwys, of die EFF se aandrang dat u geld van Nkandla aan ons – die belastingbetalers – moet terugbetaal, nie. Nee, u kan die brief in vrede lees wat ek groterig skryf vir ingeval u dit by kerslig moet lees.

Baie geluk met die groot eerbetoon wat u pas tydens ’n blitsbesoek aan Suid-Afrika by die Afrika-been van die Grieks-Ortodokse Kerk gekry het. Dit wys net dat die NG Kerk, die AGS, die VGK en al die ander kerke wat so kwaad is vir u oor u wat hulle godslasterlik noem, al die tyd verkeerd is. Gwede kan dan seker ook maar ’n vergelyking tussen die ANC se driekoppige alliansie en die Heilige Drie-eenheid tref. Ek meen, die Afrikabeen van die Griekse Kerk sou seker hierdie insidente goed oorweeg het voor hulle besluit het om vir u ʼn stralekrans op te plak. En die ander kerke raas in elk geval ook nie meer nie.

Voorts wil ek u geluk wens dat u kabinet nou die ondertekening van die Internasionale Konvensie oor Burgerlike, Maatskaplike en Kulturele Regte (ICESCR), geratifiseer het. U moet u asseblief nie aan kritiek steur dat dit 21 jaar na die regering van wyle oud-pres. Nelson Mandela onderteken is, eers geratifiseer nie. Daar is dikwels voordele in ’n voeteslepery. Dink maar hoeveel erger sou Suid-Afrika al op die internasionale persvryheidsindeks verniel gewees het as u (al) die snoerwet onderteken het.

Maar ek het tog diepe kommer in my hart. Oor Afrikaans en die Afrikaner. Ek weet nie, miskien kan u onthou van al die beloftes wat u al teenoor die Afrikaners gemaak het, of het oupa Mac dit loop snipper? Onthou u hoe u in 2009 die Afrikaners in die buiteland genooi het om terug te kom Suid-Afrika toe, want die land het spesifiek ons vaardighede nodig? U het toe ook gesê die Afrikaner het die geskiedenis van Suid-Afrika gevorm, of grootliks bygedra om Suid-Afrika te maak wat dit vandag is. En ons kan nie daarvan weghardloop nie. Ons moet dit nog beter maak. Dink net, as ons vir dr. Japie van Zyl van die JPL kon terugkry (al is hy eintlik ʼn Namibiër) en Elon Musk, dan kon ons vir u ’n paleis op die maan, of selfs Mars gebou het. Met ’n pragtige see-uitsig (die maan en Mars is vol mare’s, of te wel seë).

En ons weet mos van u en die Guptas se voorliefde vir luukse vliegtuie. Dink net hoe opgetrek kan u en die Guptas wees oor ’n luukse ruimteskip, die Nkandlagate 1, en sy sustertuig, Guptagate 1.

Nou, ek is nie ’n kenner van treindrywery nie, maar ek dink nie dit gaan heeltemal werk om ’n treindrywer as drywer van ’n ruimtetuig te herontplooi nie. Dis darem nie ’n ambassadeurspos wat iemand kan kry na hy deel van die blaam van die Guptagate-skandaal gevat het nie. Al kan ruimtetuie nou nie ontspoor of omval nie, ’n mens moet nogal korrel na ’n bewegende teiken, maak nie saak of dit die maan of Mars is nie. Die maan trek teen amper 4 000 kilometer per uur – ʼn spoed wat u kavalkade nie sommer op ’n Suid-Afrikaanse pad met al die slaggate sal haal nie. Mars wikkel nog vinniger – teen 86 871 kilometer per uur om die son. En dit kos fyn korrel, veral as ’n mens in ag neem dat die aarde nog vinniger as Mars om die son voortsnel. En mis ’n mens jou teiken, beland jy in ’n ewige wentelbaan om iets in die buitenste duisternis, of loop val in die son.

En nou? Nou gaan vertel u vir die wêreld die land se probleme het begin toe Jan van Riebeeck, toe nog in lewe, in 1652 in die land aangekom het. In 2009 was u regering mos al by herhaling ingelig dat die ANC-regering nou erg droogmaak met Eskom. Toe moes die Afrikaners terugkom om dinge beter te maak, maar nou sê u hulle moet voertsek want hulle is vir die probleme verantwoordelik wat die ANC mooi op eie stoom reggekry het.

Ja nee, die assegaai is mos magtiger as die voorlaaier.

Is dit comrade dr. Blade wat u so anders oortuig het? Neem nou maar hoe het hy oor Akademia aangegaan en gedreig om dit te sluit. Dink net hoe hy sal tekere gaan as die Afrikaner ons eie Nkandla kry soos u eens voorgestel het.

Maar gelukkig het u regering nou die ICESCR geratifiseer en moet u en die regering nou almal se kulturele regte beskerm.

Agbare president (u dring mos daarop aan om so aangespreek te word), die ander kwessie wat my pla is die ene van ras. U weet, die grondwet sê die land moet nie-rassig wees. Soos ek nie-rassigheid verstaan gaan dit wyer as net dat witmense (nog) saam met die swart mense op die Gautrain mag ry. Weet u regering presies hoeveel rassewette is nou op die wetboek, na die vorige regering die laaste een al ʼn paar jaar voor 1994 afgeskaf het? Volgens my logika het die ANC dus nie apartheid afgeskaf of vernietig nie (dis deur die Natte gedoen), en het die ANC dit bloot teruggebring. U maak mos nou soos die skoolhoofde wat oop en bloot trots die verbode ontgroening toepas, en soos hulle dit “oriëntering” noem en dink hulle trek die ouers en onderwysdepartement wol oor die oë, so noem u apartheid nou net transformasie.  En dit raak al hoe moeiliker om te bepaal of transformasie ’n goeie ding is soos hoog opgegee word, want in die praktyk is dit so rasbehep dat net rassetransformasie plaasvind, soos onder oorlede apartheid.

Nou moet Sunette in die gelykheidshof vir beweerde rassisme ma staan, terwyl van u kornuite darem self gereeld woeste rassistiese uitsprake maak en net hoër poste kry. U sien, dis moeilik om te verstaan. U is mos so ’n yster om sake te laat wegraak – hoe lyk dit met ʼn ongekende stap in die rigting van nasionale versoening? Soos met Clive Derby-Lewis of Eugene de Kock.

Maar weer eens, gelukkig het u regering die ICESCR geratifiseer wat beteken dat dit wat u regstellende aksie noem, nou aan die ban gedoen moet word. Soos u weet, verbied die Konvensie diskriminasie van enige aard op grond van ras, kleur, seks (ek is nie self mooi helder oor dié een nie en meen iets het in die vertaling verlore gegaan), taal, godsdiens, politieke of ander mening. U sien, dis nogal belangrik, want die grondwet verbied net “onbillike diskriminasie” en u regering vat daai skuiwergat om “regstellende aksie” as “billike” diskriminasie toe te laat. Nou ratifiseer u regering die konvensie wat diskriminasie van enige aard verbied. So het u die sonsondergangsklousule met bykans onmiddellike effek verpligtend gemaak.

Boonop wys die FW de Klerkstigting (ai, wat het Tony Ehrenreich nou weer van FW gesê?) daarop dat daar regskenners is wat meen dié bepaling verbied nou ook nasionale demografiese kwotas. Ai, hoe snoeker u regering nou vir Solidariteit wat so hard in die howe baklei om dit gestop te kry.

Nog ʼn aspek waarmee u regering met die ratifisering van die Konvensie vir Solidariteit voorgespring het, is dat die Konvensie nou ook die reg om te werk erken. Soos u weet, erken ons grondwet net die reg om te staak maar die reg om te werk kan net met groot moeite daaruit afgelei word. Solidariteit is in die proses van regstappe om die howe die leemte duidelik te laat verklaar. En nou, met een besluit is al Solidariteit se werk verniet.

Of is dit? Want kyk, as u regering verbrou met die toepassing, het Solidariteit darem nou ʼn handige instrument bygekry om u regering internasionaal mee te gaan looi.

Geagte prof. dr. (honoris causa of wat hulle dit ook al in Chinees en Maleis noem) Zuma. Die ander ding wat my pla is plaasmoorde. U “intelligensie”-dienste het u seker al ingelig dat dit aan Suid-Afrika ’n wêreldrekord besorg het, naamlik die hoogste moordkoers onder ’n identifiseerbare groep ter wêreld. Maar agbare doktor, ons wil nie daai wêreldrekord hê nie. Die wêreldrekords wat ons soek is soos daai wat AB de Villiers met die wilgerlat moker, soos die vinnigste internasionale eendagvyftigtal en -honderdtal sommer in dieselfde wedstryd. Vir Suid-Afrika. Al wat u hoef te doen is om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad (vir bekamping, nie pleging nie) te verklaar, en die strukture in plek kry. Ek meen u sal ’n oper oor oor grondhervorming kry, hoewel ek ’n spesmaas het dis nie die boere wat nie luister nie, dis die mense wat u aanstel. Dit sal ook help as u in u toesprake gereeld na plaasaanvalle verwys. Ek besef u sal weer risiko’s moet loop om van u geskrewe toespraak hiervan af te wyk, want ek glo nie oupa Mac en die ander sal dit ooit in u toesprake inskryf nie.

Ja, dit sal al baie help as u die snoeiskêr sommer diep in daai departement wat met grondhervorming belas is inlê en die mense vervang met mense wat weet hoe landbou en grondgebruik werk. ’n Voormalige adjunk-minister, wyle Dirk du Toit, het juis die boere gevra om te vra vir ’n klagtedirektoraat vir die departement, want hy was so toegegooi onder klagtes.

Ek weet u is ’n besige man met die lees van al die ope briewe wat mense aan u rig, en daarom sluit ek nou af al het ek nog baie ander dinge op die hart.

Dis die ding van e-tol. Ek sien juis Sanral se inkomste het so afgeneem sedert die rebelse lot in Gauteng ’n kommissie van ondersoek na die stelsel ingestel het. Al kan ek self nie bekostig om tot in Gauteng te ry en op daai e-tolpaaie te beland nie, kan my skedonk dit snags wanneer ek slaap heel gemaklik so op sy eie regkry, want die rekenings wil maar nie opdroog nie. Ongelukkig rig Sanral die rekenings aan my, en nie die simpel kar wat dit sonder my medewete doen nie. Soos wyle skoonpa Nic wie se trekkersleepwa wat reeds in die dae voor e-tol so sonder trekker of iets snags in Gauteng gaan rinkink het en deur Roodepoort se snelstrikke gejaag het.

Groete van huis tot huis en moet u ook nie verknies oor Max se stelling dat u ’n een man wrecking ball is nie – daarvoor het u die bekwame hulp van vele soos oupa Mac, Tina, Faith en vele meer – met die hand uitgesoek.

Die uwe

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Willem ·

Dit is goed om nou en dan die versekering te kry en te lees dat ons wie op die grond is se koppe is nog reg aangeskroef, dat ons met ‘n geruste hart volle ondersteuning aan diegene, soos Solidariteit en die ander Afrikaanse organisasies met al hul vertakkinge en inisiatiewe, kan gee, dat ons in die regte rigting gaan.

Dit gee ‘n mens inspirasie om net nog harder te werk vir Afrikaans, die Afrikaner en die land in geheel, ongeag die wat dit wil af breek en tot ‘n groot mate al het. Ongeag diegene uit eie geledere in die Afrikaanse media wat saam help breek met hul toetsborde waar hulle agter die rekenaars sit, in plaas van op te bou.

Genoegisnoublerriegenoeg ·

Hahaha gewoonlik het mens skool opleiding nodig om sulke briewe te verstaan!!

Vic ·

Goeie brief, Mnr Toerien – maar ek dink u is oor een ding n bietjie verkeerd – sy hoogedele Zuma is n Zoeloe, nie n Causa nie ;)

Adolph Pretorius ·

Die Prez het glo Interpol ingeroep want 2 van sy beste boeke is gesteel – en die een het hy nog nie eens halfpad ingekleur nie!

Elizabeth ·

Herman, dis nou goed geskryf, ek het breed geglimlag! Ek is veral mal oor jou adreslys bo-aan jou brief! : D

petra van vuuren ·

die man kan nie eens lees nie, hoe die hel gaan hy verstaan wat vir hom gese word nie????? en dit in Afrikaans!
sjeim!

Susan ·

herman
Die orde (in die vorm van n kruis) is aan JZ oorhandig, nie as n medalje vir goeie gedrag nie, maar in die patriarg se eie woirde, as n groot seenung aan hom en die mense van Suid-Afrika. Indien JZ dit as n eerbetoning beskou, sit hy die pot mis; hoewel dit nie regtig belangrik is nie aangesien hy as president dit namens die nasie ontvang. En go my, ons het as nasie elke seen nodig.

Carel Lubbe ·

Maggies maar ek het hierdie ope brief baie geniet…. en voel, met u toestemming, dat meer mense die brief moet sien. Ek sal graag hierdie brief op n paar forums wil deel laat my weet of ek mag assertief.

Byvoorbaat dank,
Carel

Herman Toerien ·

Hallo Carel, jy is welkom. Marela verkies net dat Maroela as bron aangedui word. Groete

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.