“Nuwe aanlyn-toelatingsproses is onregmatig” – Fedsas

skool

Foto: Argief.

Fedsas (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole) sê dat elektroniese aansoeke om skooltoelating teenstrydig is met die Skolewet en dat dit slegs ʼn poging van die Gauteng-onderwysdepartement is om self beheer oor die plasing van leerlinge te neem. Volgens Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, berus die toelating van leerders tot skole by die skoolbeheerliggaam van daardie bepaalde skool.

Fedsas het in ’n brief aan die direkteur van onderwys in Gauteng, Boy Ngobeni, daarop aangedring dat hierdie onregmatige voorskrif teruggetrek word. Ngobeni is versoek om voor 13:00 op Vrydag 10 April te reageer.

“Die wyse waarop hierdie prosedure aangekondig is, maak dit verdag. Die departement het die aankondiging gedurende die skoolvakansie gemaak, met 13 April 2015 as die eerste dag vir registrasie vir 2016,” sê Colditz. Hy voeg by dat die e-platform nie voorsiening maak vir skole se taalbeleid nie en dat dit indruis teen die Skolewet.

Dié e-platform bereken slegs twee kriteria vir plasing, naamlik of ’n ouer of voog in die skool se omgewing woon of werk en of die aansoeker reeds ’n broer of suster in die skool het.

Melanie Buys, Fedsas se bestuurder in Gauteng, sê taal word pertinent geïgnoreer, “wat dit laat lyk asof die Gauteng-onderwysdepartement hierdie registrasieprosedure wil gebruik om Afrikaans-enkelmediumskole in dubbelmediumskole te omskep”.

Fedsas is bekommerd oor die vroeë sperdatum en die betreklike kort tydperk beskikbaar vir aansoeke vir 2016 en versoek ouers om so spoedig moontlik – en geensins elektronies nie – aansoek te doen by die skool van hul keuse. Colditz waarsku ook dat dié elektroniese aansoeke al veroorsaak het dat skole geen rekord het van wie vir daardie skool aansoek gedoen het nie.

Volgens Colditz moet herregistrasie en hertoelating nie verwar word nie. Leerlinge wat reeds in ’n bepaalde skool is, mag nie herregistrasie vir daardie skool geweier word nie.

Die Gautengse onderwysdepartement was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JoeV ·

Sal maar sien hoe vat ons dit. Dat groot mense nog nie besef dat alles wat die ANC aan vat daarop uit is om Afrikaans te vernietig nie is snaaks, Kan nie verstaan nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.