NVG-hoof tree uit ná ooreenkoms met Zuma

Mxolisi Nxasana. Foto: GCIS

Mxolisi Nxasana. Foto: GCIS

Mxolisi Nxasana het as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) uitgetree nadat hy ʼn skikkingsooreenkoms met pres. Jacob Zuma bereik het.

Sias Ramaite, die voormalige adjunkhoof, sal van Maandag af as waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolging oorneem.

“Pres. Zuma het ʼn skikkingsooreenkoms met Nxasana bereik waarvolgens Nxasana sy posisie as nasionale direkteur van openbare vervolging van 1 Junie 2015 af sal verlaat,” het die presidensiële woordvoerder, Harold Maloka, gesê. Maloka wou nie die bepalings van die ooreenkoms bespreek of sê wanneer die ooreenkoms bereik is nie.

Die ooreenkoms volg ná ʼn tien maande lange struweling tussen Zuma en Nxasana. Dit het in Julie verlede jaar begin toe Zuma ’n ondersoek aangevra het om te bepaal of Nxasana bevoeg is om sy amp te beklee. Dit was nadat dit aan die lig gekom het dat Nxasana versuim het om vorige botsings met die gereg te verklaar, insluitend ʼn aanklag van moord in die 1980’s waarop hy vrygespreek is.

Die ondersoek is vroeër vandeesmaand afgelas enkele ure voordat dit moes begin het. In die verklaring het die presidensie gesê dit is gedoen omdat Zuma én Nxasana glo ʼn uitgerekte gekibbel sal nie in belang van die NVG en die regering as geheel wees nie.

Zuma het Nxasana sterkte toegewens met sy toekomsplanne en sy verklaring het ʼn erkenning ingesluit dat Nxasana die nodige integriteit het om ʼn senior posisie te beklee. “Die regering erken dat Nxasana professioneel bekwaam is en die nodige ervaring en integriteit besit om ʼn senior posisie te beklee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KarooKlong ·

Ha ha ha, wonder of die president die nodige ervaring en integriteit het om selfs ‘n junior pos te beklee.

Gideon Roos ·

My groot vraag is, wie gaan in sy plek te staan kom? Heelwaarskynlik ‘n ‘vriend’ van Zuma wat vir Thuli Madonsela sal uitskop en sal sorg dat die NVG ook vir Zuma antwoord. Hy breek ook een instansie na die ander. Hy sorg dat niks hom kan teenstaan nie.

Onthou wat ek se. Die NVG gaan nie weer iets oor Zuma te se he nie, ooit. Hierdie is die einde van die laaste gesag wat wel nog onpartydig sy werk gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.