OB gaan Motsoeneng-aanstelling ondersoek

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela, openbare beskermer, gaan ‘n nuwe ondersoek van stapel stuur na Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, nadat hy permanent in sy pos aangestel is.

“Die ondersoek sal fokus op die proses wat gevolg is rakende mnr. Motsoeneng se aanstelling, wat strydig is met die SAUK se statute,” het Kgalalelo Masibi, Madonsela se woordvoerder, aan Sapa gesê.

“Die openbare beskermer het klagtes ontvang oor bewerings van wanadministrasie en onbehoorlike en onetiese gedrag rakende die aanstelling van mnr. Motsoeneng. Die bewerings is dat die minister hom aangestel het al is hy nie toepaslik gekwalifiseer nie.”

Die ondersoek sal bepaal watter proses gebruik is in die aanstelling, of hy die nodige kwalifikasies het vir die pos, of die pos geadverteer is en hoekom aanbevelings in Madonsela se vorige verslag oor Motsoeneng geïgnoreer is.

Masibi sê Madonsela het intussen ook ‘n vergadering met die minister van kommunikasie en die SAUK versoek rakende Motsoeneng se aanstelling.

Madonsela se vorige verslag wat in Februarie uitgereik is, het onder meer bevind dat Motsoeneng se aanstelling onregmatig was, dat hy in een jaar ‘n salarisverhoging van R1,5 miljoen tot R2,4 miljoen gekry het en dat hy gelieg het oor sy kwalifikasies.

Sy het destyds ook beveel dat daar binne 90 dae ‘n nuwe bedryfshoof aangestel word.

Faith Muthambi, minister van kommunikasie, het Dinsdagaand Motsoeneng se aanstelling aangekondig. – Sapa

Lees ook:
Motsoeneng gaan minister vra oor lisensies vir joernaliste
‘OB-verslag hou nie verband met Motsoeneng-aanstelling’
SAUK se Motsoeneng permanent aangestel
Motsoeneng soek lisensies vir joernaliste
Joernaliste geskok oor vreemde mediakonferensie
Ondersoek ingestel na SAUK-hoof vrou as geskenk ontvang
SAUK-hoof kry vrou as geskenk
OB-verslag: ‘SAUK-hoof kry 63%-verhoging in een jaar’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.