Ondersoek ingestel ná SAUK-hoof vrou as geskenk ontvang

Hlaudi Motsoeneng. Foto: SAUK

Hlaudi Motsoeneng. Foto: SAUK

ʼn Klagte is by die Kommissie vir Geslagsgelykheid ingedien nadat Hlaudi Motsoeneng, die waarnemende bedryfshoof van die SAUK, ‘n vrou as geskenk van tradisionele Venda-stamhoofde gekry het.

“Ons kan nie uitbrei oor die meriete en nadele van die geval nie, want dit sal die ondersoek benadeel,” het Javu Baloyi, woordvoerder van die kommissie, gesê. “Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die klaer en die betrokke partye oor die uitslag ingelig word. ʼn Formele vrystelling vir die publiek sal daarna uitgereik word. Tot dan kan ons nie enige navrae van die media beantwoord nie.”

Die Sowetan het Vrydag berig Motsoeneng was verlede Woensdag saam met ander SAUK-hoofde in Thohoyandou in Limpopo waar hulle met ‘n drukgroep van tradisionele leiers en genesers vergader het. Tydens die geleentheid het ‘n groep vroue in ‘n ry gestaan en Motsoeneng kon glo vir hom een kies.

“Daar was omtrent 10 meisies en hulle is voor hom geparadeer. Hy het die een gekies van wie hy gehou het,” het Humbelani Nemakonde, uitvoerende sekretaris van die drukgroep, gesê. “Al die meisies was saam met hul ouers daar. Die ouers het geweet wat gaan gebeur en almal het ingestem.”

Motsoeneng het ‘n 23-jarige student, wat menslikehulpbron-bestuur studeer, gekies. Die Sowetan het ‘n foto gepubliseer waar sy, met haar borste ontbloot, langs Motsoeneng staan. Motsoeneng het glo die geskenk ontvang, aangesien hy “verbind is tot sy werk en die strategiese doelwitte van die SAUK verstaan”.

Thuli Madonsela, openbare beskermer, het in Februarie ‘n verslag vrygestel waarin daar bevind is dat Motsoeneng se aanstelling onreëlmatig was. Sy salaris het in een jaar van R1,5 miljoen tot R2,4 miljoen gestyg. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Snippie ·

Ek wonder maar net: dis mos oneties/bedrog om geskenke as deel van jou werk te ontvang?? Is sy nou die ‘bribe’ van die jaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.