Onderwysdepartement veroordeel skoolgeveg-webtuiste

'n Skermskoot van die webtuiste

‘n Skermskoot van die webtuiste

Die videowebtuiste wat betaling aanbied vir beeldmateriaal van gevegte tussen skoolkinders is ten sterkte veroordeel deur die departement van basiese onderwys.

“Ons beskou hierdie webtuiste as ‘n vulgêre verheerliking van geweld,” het Troy Martens, woordvoerder van die departement, gesê.

Maroela Media het gister oor die webtuiste www.schoolfights.co.za berig. Die webtuiste nooi mense uit om video’s in te stuur: “Het jy ‘n video van ‘n skoolgeveg? Dit kan moontlik ‘n paar rand werd wees.” Die webtuiste bevat onder meer video’s genaamd: “Twee SA skoolseuns veg oor ‘n meisie wat hulle verneuk” en “Jy sal nie glo wat die Afrikaanse meisies aan hulle vet klasmaat doen nie.”

Die webtuiste het later ‘n kennisgewing aangebring. “Let asb daarop dat ons nie kan betaal vir video’s waarin minderjariges betrokke is nie! Gevegte tussen twee of meer instemmende volwassenes sal egter nog oorweeg word.” Die webtuiste het ook ‘n Facebook-blad wat reeds meer as ‘n duisend “likes” het.

“Deur middel van hierdie webwerf en die Facebook-bladsy wat daaraan gekoppel is, word leerders aangespoor om gewelddadige dade te pleeg en inhoud in te dien,” het Martens gesê. Die departement sê hy sal die webtuiste by die relevante owerhede rapporteer in ‘n poging om dit te laat verwyder.

“Die tipe dade moet nooit aangemoedig word nie, veral in ag genome die pogings deur die departement om boeliery aan te spreek en ontslae te raak van geweld in ons skole,” het Martens gesê.

Maroela Media het intussen reeds gister die saak onder die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se aandag gebring. Volgens die polisie sal sy relevante eenheid die webtuiste ondersoek.

Maroela het Donderdag berig dat ‘n opvoedkundige sielkundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria gesê het die webtuiste “hits geweld aan” en versoek het dat dit verwyder moet word. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.