Oscar-beeldmateriaal glo onwettig bekom

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

ʼn Video van die moordbeskuldigde Oscar Pistorius terwyl hy die gebeure uitbeeld van die aand wat hy Reeva Steenkamp doodgeskiet het, was bedoel vir hofverrigtinge en die uitsaai daarvan is kontrakbreuk, het sy prokureur Sondag gesê.

“Ons wil dit baie duidelik stel dat die materiaal wat uitgesaai is, onwettig bekom is en The Evidence Room het kontrakbreuk gepleeg in terme van ons geheimhoudingsooreenkoms,” het Brian Webber in ʼn verklaring gesê. “Die materiaal is vervaardig vir hofdoeleindes in opdrag van ʼn kommissaris en die eienaarskap van die kopiereg berus by die kommissaris. Geen toestemming is verleen dat die inhoud openbaar gemaak mag word nie.”

Webber het verduidelik dat die verdedigingspan verlede jaar in Oktober die dienste van The Evidence Room bekom het, ʼn Amerikaanse maatskappy wat spesialiseer in forensiese animasie. “Die maatskappy moes die gebeure van die aand visueel uitbeeld. Sekere videomateriaal moes verfilm word as deel van die proses,” het hy gesê. “Hierdie visuele uitbeelding was slegs vir voorbereiding van die hofsaak en nie bedoel om vir enige ander doel gebruik te word nie.”

Die lokvideo vir Sunday Night, ʼn program op Channel 7 in Australië, wys hoe Pistorius op sy stompies loop met ʼn denkbeeldige vuurwapen in sy hand. In ʼn ander toneel dra hy ʼn vrou, glo sy suster, uit die badkamer en af by die trappe. Die webwerf het aangevoer die beeldmateriaal is “nog nooit vantevore gesien nie” en dat ʼn “top forensiese kenner daardeur oortuig is hy is onskuldig”.

Die beeldmateriaal is Sondagaand in Australië vertoon.

Webber het gesê Channel 7 het onwettig die beeldmateriaal bekom.

“Channel 7 het ook onderneem dat hulle nie enige van die beeldmateriaal sal uitsaai voordat die hofsaak tot ʼn einde gekom het nie,” het Webber bygevoeg. “Alhoewel ons nie kan dink hoe enige van die beeldmateriaal nie Oscar se weergawe sal ondersteun nie, sal ons slegs verder kommentaar kan lewer sodra ons kan bestudeer wat uitgesaai is.”

Webber het gesê die uitsaai van die beeldmateriaal meng ook in met die familie se privaatheid.

Intussen hervat Pistorius se hofsaak Maandagoggend in die Pretoriase hooggeregshof. Staatsaanklaer Gerrie Nel is besig met Wayne Derman, ʼn mediese dokter en spesialis in sport en menslike bewegingskunde, se kruisondervraging. Nel het Derman Donderdag daarvan beskuldig dat hy bevooroordeeld is en sy feite aanpas om te pas by die gebeure van die aand.

Pistorius word beskuldig van moord nadat hy Steenkamp op 14 Februarie 2013 deur ʼn geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker gesien. Hy staar ook drie klagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. -SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

Lees ook:
Regstappe teen nuwe Oscar-video

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.