Oscar is “selfsugtig”, sê staatsaanklaer

Oscar Pistorius Foto: Bongiwe Mchunu/Independent Newspapers Ltd/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius Foto: Bongiwe Mchunu/Independent Newspapers Ltd/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel het Donderdag in die Pretoriase hooggeregshof tydens Oscar Pistorius se moordverhoor gepoog om te bewys dat die atleet selfsugtig is en gereeld ander persone blameer het.

“Dankie, mnr. Pistorius. Ek het nou drie ‘ekke’. ‘Ek moet oefen. Ek moet gaan eet. Ek het planne.’,” het Nel gesê terwyl hy die atleet ondervra het oor WhatsApp-boodskappe tussen hom en Reeva Steenkamp.

Pistorius het gesê hy het nooit op Reeva geskree nie. “Waarom sal sy skryf sy is soms bang vir jou,” wou Nel by hom weet. “Sy was bang vir die gevoelens wat sy vir my het. Sy is bang vir die manier waarop ek reageer op gevoelens,” het Pistorius geantwoord.

Nel het dit aan Pistorius gestel dat sy eksmeisie, Samantha Taylor, vroeër getuig het hulle verhouding was “ontstuimig”. Pistorius het ook ontken dat hy in hierdie verhouding op Taylor geskree het. “Ek het baie dinge in me. Taylor se getuienis gehoor wat leuens was. Ek dink nie mnr. [Barry] Roux [Pistorius se prokureur] kon byhou nie,” het die atleet gesê.

Die beskuldigde het nie saamgestem dat dit vernederend was vir Steenkamp toe hy haar aangesê het om nie meer kougom te kou nie. Nel het hom ook verwys na ʼn voorval waar Steenkamp die atleet nie voorgestel het aan ʼn vriend nie. Pistorius het weggestap toe Steenkamp hom nie voorgestel het nie. Hy het gesê sy swak gedrag nadat hy by die gesprek uitgesluit is, was dat dit hom nie betrek het nie en dat dit net beleef sou wees om hom voor te stel. “Jy sien, jy blameer haar vir dit wat gebeur het,” het Nel teruggekap. “‘Sy moes my voorgestel het. Sy was verkeerd.’,” het Nel gesê.

Pistorius het Donderdag ook ontken dat sy vinger op die sneller was van die vuurwapen wat in die Tasha’s-restaurant in Johannesburg afgegaan het. Hy kan nie verklaar hoe die vuurwapen afgegaan het terwyl dit in sy hande was nie. Nel het gesê die vuurwapen moes dan “wonderbaarlik” afgegaan het, aangesien die staat se ballistiese kenner, kaptein Chris Mangena, getuig het dat die vuurwapen nie kan afgaan indien iemand se vinger nie op die sneller is nie. “Ek moet dus aanvaar die vuurwapen het self afgegaan? Jy weier bloot om verantwoordelikheid te aanvaar vir enigiets,” het Nel bygevoeg.

Pistorius het later toegegee dat hy soms nalatig opgetree het deur die magasyn van sy vuurwapen nie altyd in die kluis toe te sluit nie.

Nel het Pistorius ook uitgevra oor ʼn geleentheid waar die atleet saam met sy vriende op ʼn boot uitgegaan het, en die atleet sy vuurwapen by hom gedra het terwyl hulle op die water was. “Waarom het jy jou vuurwapen na ʼn kuiergeleentheid saam met jou gevat?” wou Nel weet. Pistorius het gesê hy kon nie die vuurwapen in die motor laat nie. Hy het erken dat hy in ʼn stadium die vuurwapen slegs in ʼn handdoek toegedraai het toe hy gaan swem het.

Volgens Pistorius het sy regspan ook vir hom gesê hy is reg om te verstaan dat hy iemand anders se ammunisie in sy kluis mag hou, sonder om ʼn lisensie vir die betrokke wapen te besit. Sy pa het glo .38-ammunisie in sy kluis gebêre terwyl hy nie by die huis was nie.

Nel het aangedui dat Pistorius se pa geweier het om ʼn verklaring in die saak te maak.

Nel het gesê dit is die derde keer wat Pistorius sy regspan vir iets wil blameer. “Jy is ʼn vuurwapen-entoesias. Jy behoort die wet te ken. Ek verstaan nie waarom jy nie skuldig pleit nie. Jy wil net nie verantwoordelikheid aanvaar nie,” het die staatsaanklaer gesê.

Pistorius word beskuldig van Steenkamp se moord op 14 Februarie 2013. Hy het haar deur ʼn geslote toiletdeur geskiet. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. –SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.