Oscar Pistorius-moordverhoor: Vriend getuig oor skoot in restaurant

Kevin Lerena Foto: Facebook

Kevin Lerena Foto: Facebook

Kevin Lerena, die professionele bokser, het Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof getuig oor ʼn skoot wat in die Tashas-restaurant in Melrose Arch afgevuur is.

Lerena, wat rakelings deur die koeël getref is wat Oscar Pistorius per ongeluk afgevuur het, het gesê hy het nooit enigiemand van die voorval vertel nie, en is onseker hoe die media daarvan te hore gekom het.

Die voorval het in Januarie 2013 plaasgevind. “Op 16 Februarie [2013] het ek meer as 100 telefoonoproepe van die media ontvang,” het Lerena gesê. Dit is twee dae ná die noodlottige skietvoorval by Pistorius se huis.

Volgens Lerena het internasionale media berig dat Pistorius hom die vorige maand in sy been geskiet het. Die polisie het hom gekontak om die berigte te bevestig. Hy het aan die polisie gesê die berigte is vals, aangesien hy nie tydens die voorval beseer is nie.

Hy het vroeër aan die hof gesê hy het geskrik toe die skoot afgevuur is. ʼn Vriend, Darren Fresco, het glo in die restaurant die vuurwapen aan Pistorius oorhandig. Pistorius, Lerena, Fresco en Martyn Rooney, ʼn Britse atleet, het middagete geniet by die restaurant.

Pistorius het glo ná die skoot gevra of enigiemand beseer is en het Fresco gevra om die skuldlas te dra, aangesien hy nie aandag wou trek nie. “Oscar het gesê, ‘asseblief, Darren, sê dit was jy. Ek wil nie spanning om my hê nie. Dra jy asseblief die blaam’,” het Lerena getuig.

Lerena is die vierde getuie in die saak teen Pistorius nadat die atleet Steenkamp op 14 Februarie 2013 in sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy het ingestem dat sy getuienis gebeeldsend mag word en foto’s van hom gepubliseer mag word. Pistorius voer aan hy het Steenkamp vir ʼn inbreker aangesien, maar die staat gaan probeer bewys dit was moord met voorbedagte rade. Pistorius staar ook aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig.

Barry Roux, vir Pistorius, het vroeër die derde getuie, Charl Johnson, ʼn IT-kenner daarvan beskuldig dat sy getuienis nie onafhanklik is nie. Roux het gesê dit is “merkwaardig” dat Johnson en sy vrou, Michelle Burger, dieselfde woorde in hul getuienis gebruik. Johnson het ontken dat hy en sy vrou haar getuienis bespreek het. Hy het ook gesê sy privaatheid is erg geskend nadat sy telefoonnommer Dinsdag regstreeks uitgesaai is. Hy het glo Dinsdagaand talle oproepe ontvang van mense wat hom beskuldig dat hy nie die waarheid gepraat het nie.

Die saak duur voort. -SAPA

Klik hier om die hooftrekke gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Annatjie ·

Fresco is die ou wat hier vervolg moet word, waarom gee hy ‘n gelaaide vuurwapen in ‘n Restaurant onder ‘n tafel aan iemand anders. Kan nie sien wat die storie met die moordsaak te doen het nie. Dit gee my die indruk Gerrie Nel is onseker oor sy saak en gryp nou na situasies wat niks met mekaar te doen het nie. ???

Danielle ·

Dis so goed ek straf my kind wat die buurman se perskes gesteel het eers more, terwyl die insident 7 jaar terug al gebeur het. Ek kan self ook nie sien hoe die twee sake verband hou met mekaar nie, buiten dat in beide gevalle ‘n vuurwapen betrokke was.

Slim Daan ·

Danielle. Ek gee jou die versekering dat dit hoegenaam nie die Staat se betoog en oogmerk was om Oscar skuldig aan die een te kry nie. Die bedoeling wel om op rekord te kry dat hy nie mans genoeg is om verantwoordelikhede op sy eie skouers te neem nie.
Hy’s n bedorwe brokkie, en wanneer hy skote afvuur en daar kom bollie, dan vra hy n pel om hiervoor man te staan.

Pat van der Merwe ·

Ek dinkOscar is 100% skuldig al pleit hy onskuldig! Hy dink omdat hy n publieke figuur is & baie geld het, kan dit alles verged vir die moord wat hy wel gepleeg het! Dis n skande om te moet aanhoor hy glo onskuldig is, nadat daar reeds al so baie getuienisse teen hom is, wat bewys hy het arme Reeva koelbloedig doodgeskiet, omdat hy jaloers was & nie sy jalousie in bedwang kon hou nie. Hy is mos bekend vir agressie & wapen-malheid! Hoop hy gaan lewenslank trunk toe, want wat dink hy, is dit reg! Reeva se arme ouers, ons bid vir hulle deur hierdie uitmergelende hartseer tyd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.