OVK-baas stel vandag haar saak

Pansy Tlakula. Foto: eNCA

Pansy Tlakula. Foto: eNCA

Pansy Tlakula, die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), moet Vrydag aan die verkiesingshof in Johannesburg verduidelik hoekom sy geskik is om in haar amp te dien.

Die hof het Dinsdag aangedui dat hy self ondersoek sal instel om te bepaal of Tlakula volgende week se verkiesing sal oorsien. Haar regspan het sedertdien al om die uur gewerk sodat hul argumente Donderdag teen 17:00 by die hof ingedien kon word.

Tlakula se prokureurs het Dinsdag gesê dit is onregverdig om haar in so ʼn kort tydperk te ondersoek, maar dat hulle die hof se beslissing respekteer.

Verskeie politieke partye het ʼn aansoek voor die hof gebring dat Tlakula nie geskik is om in haar amp te dien nie, en dat sy moet bedank. Die partye wat die aansoek ingedien het, is die United Democratic Movement (UDM), die African Christian Democratic Party (ACDP), die Congress of the People (Cope), Agang SA en die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF).

Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, het in Augustus 2013 ʼn verslag vrygestel waarin sy bevind het dat Tlakula ʼn “onreëlmatige” rol gespeel het om die perseel aan te skaf, waarna die oudit van die Nasionale Tesourie aangevra is. Ouditeure van PriceWaterhouseCoopers het namens die Nasionale Tesourie dié verslag saamgestel oor die aanskaffing van die OVK se kantoor by Riverside-kantoorpark in Centurion, Pretoria. Die verslag het bevind die proses was nie regverdig, deursigtig of koste-doeltreffend nie. Die verslag het ook bevind dat Tlakula verskeie persone nie ingelig het oor wat van hulle verwag word tydens die proses nie.

Die partye het aangevoer dit is belangrik vir die kiesers en die opposisiepartye om vertroue in die OVK te hê en dat die kommissie deur iemand gelei moet word wat ʼn vrye en regverdige verkiesing kan verseker. Die algemene verkiesing word op 7 Mei gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.