OVK-werknemers dreig glo om te staak

Pansy Tlakula. Foto: eNCA

Pansy Tlakula. Foto: eNCA

Werknemers van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) dreig glo om te begin staak as adv. Pansy Tlakula, beleërde voorsitter van die OVK, nie voor die verkiesing op 7 Mei uit haar pos verwyder word nie, berig City Press.

Met slegs sowat ʼn maand oor voor Suid-Afrikaners na die stembus gaan dreig die moontlike staking om die verkiesing te ontwrig en plaas dit verdere druk op Tlakula. Sameroepers van die ongehoorde staking sê dit word deur meer as 90% van die OVK se werknemers gesteun.

ʼn Herrie het om Tlakula se kop losgebars nadat ʼn forensiese ouditverslag van Price­waterhouseCoopers (PwC) bevestig het dat sy betrokke was by ʼn gekonkelry om ’n nuwe kantoor vir die OVK te bekom. Die tesourie het PwC opdrag gegee om ʼn verslag op te stel nadat Thuli Madonsela, openbare beskemer, vroeër bevind het dat Tlakula verkeerdelik opgetree het.

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), en Mamphela Ramphele, leier van AgangSA, het vroeër die week geëis dat Tlakula moet bedank. Malema het gesê Tlakula moet bedank ten einde ʼn “moontlike burgeroorlog te vermy.”

Die ANC het Tlakula intussen verdedig en gesê haar kwessies het nie ʼn impak op die geloofwaardigheid van die verkiesing nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.