Pansy Tlakula, voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gaan glo ʼn verlofaansoek by pres. Jacob Zuma indien ná die verkiesingshof aanbeveel het dat sy uit haar amp verwyder moet word.
“Adv. Tlakula het besluit om appèl aan te teken by die grondwetlike hof om al die sake op te los,” het Leslie Mkhabela, haar prokureur, Donderdag gesê. “Sy sal intussen aansoek om verlof by die president indien terwyl die appèlproses voortduur.”
Hy sê Tlakula is teleurgesteld deur die verkiesingshof se uitspraak. Hy het bygevoeg daar is verskeie foute in die uitspraak.
Regter Lotter Wepener het Woensdag aanbeveel dat Tlakula uit haar amp verwyder moet word weens wangedrag. Die relevante komitee in die Nasionale Vergadering sal die aanbeveling oorweeg en op verdere stappe besluit.
Die OVK het Donderdag in ʼn verklaring gesê hy neem kennis van die hof se uitspraak en die saak is nou in die parlement se hande. Volgens die Verkiesingswet kan ʼn kommissaris slegs deur die president uit sy of haar amp verwyder word weens wangedrag, onbekwaamheid of ongeskiktheid. -SAPA
Lees ook:
Verkiesingshof sê Tlakula moet gaan