Pastoor vas oor liggaamsdele in kerk

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Pastoor is in hegtenis geneem nadat ʼn driejarige kind se liggaamsdele in ʼn kerk in Pongola, KwaZulu-Natal, opgespoor is.

“Die polisie het Saterdag ʼn wenk ontvang oor ʼn liggaam by ʼn kerk in Ncontshane en hulle het op die liggaamsdele afgekom,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die liggaamsdele behoort vermoedelik aan ʼn driejarige seun wat die vorige Woensdag as vermis aangemeld is.” Die kind se kop was ook in die sak. Sekere liggaamsdele word steeds vermis en die polisie is op soek daarna.

Die polisie het vroeër aangedui die kind is vier jaar oud.

Die 51-jarige pastoor sal na verwagting binnekort in die hof verskyn. ʼn Saak van moord word ondersoek. Zwane het nie gesê wanneer die pastoor in hegtenis geneem is nie en het ook nie die naam van die kerk bekend gemaak nie.

Intussen is 15 mense in hegtenis geneem op aanklag van openbare geweld nadat die kerkgebou en ʼn huis aan die brand gesteek is. Van die persone het reeds in die landdroshof in Pongola verskyn en bly in aanhouding tot hul aansoek om borgtog op 11 Julie. Twee 17-jarige tieners is in hul ouers se sorg vrygelaat en aangesê om ook die borgtogverhoor by te woon.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het die gemeenskap gemaan om kalm te bly en die polisie die kans te gun om sy werk te doen. Sy het die gemeenskap versoek om nie die reg in eie hande te neem nie. -SAPA

Lees ook:
Kind se liggaamsdele in kerk opgespoor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.