Persfoto’s verwyder van ANC-T-hemde wat vervoer word

Argieffoto

Argieffoto

Foto’s van ANC-T-hemde wat in ʼn voertuig van die Gautengse verkeerspolisie vervoer is, is van ʼn joernalis se selfoon verwyder.

“Sanef veroordeel die teistering van ʼn eNCA-joernalis deur ʼn BBP-polisiebeampte wat pres. Jacob Zuma tydens sy verkiesingsveldtog beskerm het,” het Mpumelelo Mkhabela, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef), Sondag in ʼn verklaring gesê.

Die voorval het Vrydag in Duduza, Ekurhuleni plaasgevind waar Zuma inwoners tydens sy verkiesingsveldtog besoek het.

“Die lyfwag het Nikolaus Bauer se selfoon gegryp en die foto’s verwyder,” het Mkhabela gesê. “Die foto’s was van ANC-T-hemde wat met ʼn voertuig van die Gautengse verkeerspolisie na ʼn byeenkoms in die provinsie vervoer is. Die T-hemde is aan ANC-beamptes en Zuma-ondersteuners uitgedeel.”

Volgens Mkhabela het die lyfwag Bauer versoek om die foto’s te verwyder, maar hy het geweier. “Toe hy weier, is die selfoon gewelddadig van hom afgeneem en die lyfwag het die foto’s afgehaal.”

Hy sê Sanef beskou dié gedrag as verregaande en totaal onaanvaarbaar. Hy sê dit kom neer op sensuur wat teenstrydig is met die Grondwet.

Sanef sal Bauer ondersteun in enige verdere stappe wat hy teen die lyfwagte neem.

Keith Khoza, woordvoerder vir die ANC, het aan die Sunday Times gesê die Gautengse verkeersdepartement moet ondersoek waarom T-hemde in ʼn staatsvoertuig vervoer is.

Busaphi Nxumalo, woordvoerder vir die departement, het gesê premier Nomvula Mokonyane se kantoor het die voertuig ontplooi. ʼn Ondersoek sal gedoen word om te bepaal waarom ʼn beampte, sonder sy uniform, politieke T-hemde uitgedeel het. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

alet ·

Kan julle nie verstaan hy is n ANC Zuma kader hy mag mos nie die hoogedele verontagsaam nie die heilige het gepraat en hy het gespring ,nie gevra hoehoog nie

Jasper ·

Van hulle ondersoek sal niks kom nie. Amin/ Mugabe mentaliteit. Die Afrika manier van doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.