Platinumstaking: Amcu het bykomende eise

Lede van Amcu wat staak Foto: M Molaole/Sapa

Lede van Amcu wat staak Foto: M Molaole/Sapa

Amcu het nou bykomende eise gemaak in die briewe wat hy aan platinumprodusente gestuur het nadat daar “in beginsel” ‘n ooreenkoms bereik is.

“Die briewe opper verskillende prosedurele kwessies soos die tydperk van die voorgestelde ooreenkomste, wat die maatskappye bereid is om met die vakbond se leierskap te bespreek,” het Charmane Russell, woordvoerder vir die produsente, in ‘n verklaring gesê.

“Ongelukkig bevat die briewe ook nuwe en bykomende eise wat, indien dit toegestaan word, reuse bykomende koste – van sowat R1 miljard in totaal – sal beteken vir die maatskappye. Dit is bykomend tot die verhogings van die beginselooreenkoms.”

Russel sê die platinumprodusente kan nie die bykomende looneise bekostig nie. Daar is die afgelope paar dae massa-vergaderings gehou by mynskagte in Limpopo en Noordwes waar mynwerkers besluit het oor die voorwaardes waaraan daar voldoen moet word voor die staking afgelas word.

Die vakbond Solidariteit het intussen weer ’n beroep op Amcu gedoen om hul jongste wenslys te laat vaar en die aanbod van werkgewers in die platinumbedryf te aanvaar om sodoende, ná 21 weke, ’n einde aan die vernietigende staking in die sektor te bring. Solidariteit sê Amcu se reaksie op die werkgewers se jongste aanbod bevat byna net soveel onrealistiese eise as voorheen.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, is Amcu se nuutste wenslys van eise ’n teken dat hulle ter elfder ure verlore aansien probeer herwin. “Amcu se jongste eise grens ook aan kwade-trou-onderhandeling, omdat hulle die doelpale aanhoudend verskuif. Amcu se lede, asook die onskuldige niestakers, het reeds ’n duur prys betaal vir die verlammende staking. Nog baie meer swaarkry en ontwrigting gaan volg weens afleggings wat deur die staking veroorsaak gaan word.”

Intussen het Solidariteit Helpende Hand reeds miljoene rande se lewensmiddele onder niestakende mynwerkers in die Rustenburg-omgewing versprei en die noodlenigingsaksie duur steeds voort.

Amcu-lede het op 23 Januarie begin staak by Implats, Amplats en Lonmin en eis ‘n basiese maandelikse salaris van R12 500.

Platinumprodusente het voorgestel dat die salaris van die laagste betaalde werknemers met R1 000 vir twee jaar en R950 vir die derde jaar verhoog word. Dit sluit ander voordele uit. Die salarisse van beamptes, ambagsmanne en mynwerkers sal in die eerste jaar met 8% verhoog word en met 7,5% in die oorblywende twee jaar. Die voorgestelde skikking is vir ‘n tydperk van drie jaar.

Uitleeftoelae sal nie vir die tydperk van die skikking verhoog word nie. Pensioenfondsbydraes, oortyd, vakansieverlof en skoftoelae sal jaarliks volgens die verbruikersprysindeks (VPI) verhoog word. Die maatskappye het ook beloof om werkers terugwerkend te vergoed binne sewe dae nadat hulle teruggekker het werk toe. Die terugwerkende vergoeding is vir die periode voor die staking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vetkopbaasspioen ·

Waar is die regering? STilswyend onderseun die regeing die stakers! Dit is duidelik uit Z se speech. Onskuldige mense word hier benadeel en idiotisme en magsbeheptheid is aan die orde van die dag! Tipiese Afrikaland en mentaliteit! Ek is lank nie meer trots Suid Afrikaans nie! Wat is daar om op trots te wees? Stakings, E tol, magsvergryp, korrupsie in alle vorme! Siek samelewing!

Anoniem ·

Wat “n grap. Die vakbond unies moet belet word. Hoekom het Brittanje nie die probleem nie? En waarom word die stakers nie gefire nie? Daar is miljoene werkloses wat te graag sal gaan werk vir die geld wat stakers so oor kla. Klink meer vir my daar is duistere motiewe hier agter. KLa met die wit brood onder die arm. Indien hulle ” gefire” word en die werk vir die werkloses gegee word sal dit die stakings hok slaan. Probleem is ons land is nou ‘n piesang republiek gemaak deur sy regeerders. Strenger optrede teenoor stakers is al wat sal help. Fire en HIre.

Aletta Myburgh ·

Kan die President Amcu nie ontbind nie? Hoe lank gaan Amcu nog toegelaat word om die show te run?! Enough is enough!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.