Polisiebrutaliteit-video: Borgtog toegestaan

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Twee polisiebeamptes wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn naakte man aangerand het, se aansoek om borgtog is Maandag in die Kaapstadse landdroshof toegestaan.

David Alexander Gunn (43) en Gerrit Donovan Januarie (45) het Maandag vir die eerste keer in die hof verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig nadat hulle Vrydagaand in hegtenis geneem is.

Volgens staatsaanklaer Adiel Jansen het nie een van die twee mans vorige uitstaande sake, vorige skuldigbevindings of uitstaande lasbriewe vir hul inhegtenisneming nie. Die prokureurs vir die twee mans het versoek dat die borg verminder sal word, aangesien hulle geskors is hangende die ondersoek en nie groot salarisse verdien nie.

Hulle is vrygelaat op borgtog van R1 500 elk en moet op 9 Mei weer in die hof verskyn. Jansen het egter ʼn paar borgtogvoorwaardes versoek wat insluit dat die twee mans nie kontak mag hê met enige van die ooggetuies nie en ook nie besoek mag aflê aan of kontak mag hê met beamptes van die Kaapstadse sentrale polisiestasie nie. Gunn en Januarie moet elke Maandag- en Vrydagaand by hul naaste polisiestasie aanmeld.

ʼn Persoon het Donderdag haar selfoon gebruik om ʼn voorval af te neem waar ʼn Nigeriese man deur polisiebeamptes in die straat aangerand word. Die videogreep het opslae gemaak op sosiale media. Twee polisiebeamptes boei die man, en twee mans met neongeel-veiligheidsbaadjies hou hulle dop. Een van die beamptes trek die man se broek uit en laat hom ontbloot in die straat staan. Die man word dan geskop en geslaan terwyl sy arms vasgehou word.

Die hof het beslis dat die man se naam nie gepubliseer mag word nie. Dié bevel is ook van toepassing op die identiteit van alle getuies.

Twee mans is Saterdag na die Kaapstadse polisiestasie om verklarings in verband met die voorval af te lê, maar hulle is direk daarna op ʼn aanklag van aanranding in hegtenis geneem. Dié twee ooggetuies het ná Gunn en Januarie in die hof verskyn. Hul name word, kragtens die hofbevel, nie vrygestel nie. Geen verdere besonderhede is verskaf nie. Een van die mans het glo ʼn uitstaande lasbrief van arrestasie teen hom. Die mans sal tot Woensdag in aanhouding bly.

Lees ook:
Polisiebrutaliteit-video: Twee vas
Polisiebrutaliteit-video: Beamptes geskors
Vermeende polisiebrutaliteit afgeneem

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Daleen ·

En wat het die Nigeriese man gedoen? Of is hy sommer laat gaan?

Nidea ·

Om ‘n man te verneder in die publiek deur sy broek af te trek en te skop waar dit seer maak…ek wonder ook baie hard wat hy gedoen het? Maar dit word dood stil gehou….klink of sy knaters hom gepla het, om die minste te se.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.