Puk-verslag “in politiek ontvang en gebore”

Hoofhek van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus Foto: TimesLive

Hoofhek van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus Foto: TimesLive

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, verwag dat ʼn verslag oor die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus baie negatief gaan wees vir dié instelling.

Die Raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) het Woensdag na afloop van ‘n spesiale vergadering bevestig dat hy nog tyd benodig voordat die finale verslag aan Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, gestuur kan word. “Die Raad het op grond van die minister se versoek, ʼn ondersoek van stapel gestuur na kulturele, induksie-, oriënterings-, ontgroenings- en ander afbrekende praktyke, met inbegrip van dade van fascisme en nazisme, wat skynbaar by die Puk-kampus voorkom met die stilswyende goedkeuring van die universiteitsbestuur,” het Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, in ʼn verklaring gesê.

Buys, wat tot onlangs nog ʼn lid was van die uitvoerende komitee van die universiteitsraad, het Woensdag aan Maroela Media gesê die ondersoektaakspan is in politiek ontvang en gebore. “Ek het nog nie die verslag gesien nie, maar ek verwag dat die verslag in lyn gaan wees met die bestaande transformasiemodel wat by baie universiteite toegepas is, maar misluk het,” het hy gesê.

“My kommer is dat die kommissie meer polities gedrewe as akademies onafhanklik is,” het hy bygevoeg. “Een van die lede is by die Mafikeng-kampus betrokke en ʼn ander by die universiteit self. ʼn Derde persoon is ʼn politieke kommentator. Slegs een Afrikaanssprekende persoon het op die ondersoektaakspan gedien.”

Buys sê die Noordwes-Universiteit is die enigste instelling waar samesmelting suksesvol plaasgevind het en al die kampusse na die tyd beter daaraan toe was. “Die Universiteit van Kaapstad (UK), Universiteit van Johannesburg (UJ), Universiteit van Pretoria (Tuks) en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het nie saamgesmelt nie, hulle het slegs ʼn kleiner kampus of twee opgeneem.” Hy sê daar is tans 36 kampusse op 25 universiteite landswyd. “Dit is uiters onbillik dat die owerhede nie eers een kampus wil gun waar die hooftaal Afrikaans is nie.”

Volgens Buys gaan die kommissie waarskynlik nou probeer om “die bewese onsuksesvolle transformasiebloudruk af te dwing op die Noordwes-Universiteit en spesifiek die Puk-kampus”.

Buys sê die model wat by ander universiteite toegepas is, het transformasie verskraal tot ʼn radikale verandering van rassesamestelling wat die studente en dosente betref. “Ná ʼn kort oorgangstyd van tweetaligheid is Afrikaans afgeskaal en later prakties uitfaseer,” verduidelik hy.

Hy het ook gesê die ondersoekspan sal na verwagting ʼn voorstel maak dat die bestuursmodel gesentraliseer moet word. “Dit kan egter daartoe lei dat die kampusse se selfstandigheid in die slag bly, soos wat by ander samesmeltings gebeur het. Van die NWU-kampusse is meer as 300 km van mekaar geleë wat sentralisasie prakties onwerkbaar maak.”

Volgens Buys is dit waarskynlik dat die ondersoektaakspan gaan voorstel dat die koshuise en kampusse verteenwoordigend moet wees van die nasionale rassedemografie. “Dit sal egter teenstrydig wees met die grondwet en die appèlhofuitsprake wat Solidariteit reeds behaal het,” het Buys bygevoeg. “Swaargewigte soos [oudpresident] FW de Klerk en [grondwetkenner] Marinus Wiechers het reeds bevestig dat hierdie rasse-ideologie ongrondwetlik sal wees.”

Hy is ook besorg oor ʼn moontlike heksejag op enkele individue vanweë die feit dat die prosedure wat deur die ondersoektaakspan gevolg is, moontlik nie die bewerings van “gegriefde individue” getoets het nie. “Indien ʼn klag of bewering teen ʼn persoon gemaak word, moet daardie persoon die geleentheid gebied word om homself te verweer, anders word die geloofwaardigheid van die hele proses in twyfel getrek,” het Buys bygevoeg.

Buys sê hy sou graag wou sien dat die komitee uit senior regsgeleerdes bestaan en mense wat nie op een of ander manier polities of aan die instelling self gekoppel is nie. “Indien die ondersoektaakspan anders saamgestel word, is daar moontlik ʼn ander uitslag,” het hy gesê.

Buys het dit benadruk dat die Solidariteit Beweging Afrikaanse universiteitswese op sy hart het. “Sover dit my kennis strek het die raad nog nie ʼn besluit oor die verslag geneem nie,” het hy bygevoeg. Hy het egter gemaan daar bestaan ruimte vir regsoptrede indien die uitkoms van die verslag baie polities gedrewe of onbillik is vanweë die “Nazi-basuingeklank” wat tot die kommissie gelei het.

Hy sê daar is ʼn groot ontevredenheid onder die universiteit se steunbasis, die studente en hul ouers en donateurs en oudstudente en die burgerlike samelewing in die breë.

“Vir my is dit noodsaaklik dat Afrikaanse studente ook toegang tot moedertaaluniversiteitsopleiding het,” het Buys bygevoeg. “As Solidariteit Beweging sal ons nie huiwer om saam met die res van die Afrikaanse gemeenskap daarvoor te veg nie. Ek het die hoogste respek vir [voormalige vise-kanselier] Theuns Eloff wat onder baie moeilike omstandighede ʼn balans kon vind tussen eenheid en verskeidenheid en tussen die reg van Afrikaanssprekendes op moedertaalonderwys en nie-Afrikaanssprekendes se reg tot toegang tot onderwys. Ons sal ons daarvoor beywer dat hierdie nalatenskap as die enigste suksesvolle samesmeltingsbalans voortgesit word.”

Lees ook:
Raad wil Puk-verslag oor ontgroening eers verder bekyk
NWU-klag teen dagblad teruggetrek; transformasie by Puk bespoedig
Voorstelle van internasionale ondersoekspan by NWU belemmer multi-kulturele inslag
Puk: Engels moet gelyk met Afrikaans, sê verslag
Theuns Eloff tree uit met roerende afskeidsboodskap
NWU dien klag in by Persombudsman teen dagblad
Puk-ondersoekspan bekend gemaak
Puk-koshuise: Ondersoek afgehandel
Puk-raadsvergadering: Eloff tree uit; ondersoek van stapel gestuur
Puk-groet: Raad besluit oor Puk se pad vorentoe
Zuma reageer op Puk-groet
Regshulp vir geskorste Puk-HK-lede
Oud-student bedank Puk vir balans
Video: Hitler se reaksie op Puk-groet
Basson se roekelose joernalistiek
Video: pukke moet transformeer – departement
Puk-studente begin met eie veldtog
Video: Puk-studente stap uit tydens Nazi-video
Solidariteit v. Beeld lok vurige reaksie uit
Solidariteit: Bloedneus vir Beeld en Basson
Puk-groet: Departement sê koppe gaan rol
NWU-raad: “Ons sal nie menseregteskendings duld nie”
Puk-groet: NWU-bestuur moet dringend afgedank word – HETN
Premier reageer op Puk-groet
Puk-groet: Twitter-vermaak terwyl storm woed
Debat oor Puk-groet ‘n g*tslag vir Afrikaans
Puk-rektor sê oor Nazi-saluut

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rudi ·

Dit sal jammer wees as die Univesiteit sy karakter verloor. Ek het daar geswot en dit was fantasties. Dit gaan ‘n opdraande stryd wees om dit Afrikaans te hou. Die ANC wil alles verdeel want hul kan niks self opbou nie.

Johan ·

Vergeet van die PUK en alle ander voormalige Afrikaanse Universiteite. As ons ‘n Afrikaanse Universiteit wil he, sal ons dit ‘n privaat-instansie moet maak wat deur Afrikaner-besigheidsmense befonds word. Koppel curricula aan ‘n buitelandse Universiteit wat bereid is om te help.

JB ·

Johan, n eie Afrikaanse Universiteit sal nooit werk met ons Afrikaner volkie nie. Dit sou ideal gewees het, maar ons kon ongelukkig nog nooit saamstaan/stem nie. Daar is alreeds n paar wat maar sukkel om n bestaan te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.