Pukke se SR-voorsitter glo onregmatig geskors

Monica van Schalkwyk. Foto: Facebook

Monica van Schalkwyk. Foto: Facebook

Monica van Schalkwyk, studenteraadsvoorsitter van die Noordwes-universiteit se Potchefstroomkampus, is glo onregmatig van die Institusionele Verteenwoordigende Studenteraad (ISR) geskors.

Volgens AfriForum Jeug is Van Schalkwyk geskors nadat sy die res van die ISR, wat uit SR-lede van die Mafikeng- asook die Vaaldriehoekkampus bestaan, se voorstel om veto-stemreg in die ISR te implementeer, teengestaan het.

“AfriForum Jeug gaan Maandag ʼn brief aan prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, stuur om agter die kap van die byl te kom. Ons wil weet waarom Van Schalkwyk geskors is en hoe prof. Kgwadi, wat moet toesien dat die ISR korrek optree, dit kon toelaat,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Maree het gesê indien die voorstel om veto-stemreg in die ISR te implementeer deurgevoer sou word, dit sou beteken dat SR-lede van ander kampusse besluite kon neem oor kampusse waaroor hulle geen kennis dra nie. “Dit is verregaande,” het hy gesê.

Volgens Maree het die ISR egter steeds die voorstel aan die NWU-Raad voorgelê. “Van Schalkwyk het na aanleiding hiervan ʼn brief aan die raad gestuur waarin sy die redes uitlig waarom die voorstel nie in ag geneem kan word nie en om te beklemtoon dat die regte prosedure nie gevolg is nie.”

Maree het gesê die ISR het Van Schalkwyk “sonder rede en sonder om die korrekte prosedures te volg” geskors nadat hulle bewus geraak het van die brief wat Van Schalkwyk gestuur het. “Dit is kommerwekkend dat ʼn student wat opstaan vir dit wat reg is, stilgemaak en uitgewerk word,” het Maree gesê.

“Dit wil voorkom of ʼn tendens besig is homself te herhaal in sekere Suid-Afrikaanse universiteite. As ʼn SR-lid of werknemers van ʼn universiteit nie saamstem met die leierskap nie, word hierdie persone eenvoudig uitgewerk en stilgemaak. Die NWU kan nie selektief besluit na watter lede van die ISR hulle wil luister en na wie nie. AfriForum Jeug sal die saak monitor en nie huiwer om op te tree teen enige onregverdighede nie,” het Maree afgesluit.

Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, het by navraag aan Maroela Media gesê die universiteit ondersoek die geldigheid van die tydelike skorsingsbevel. Hy het bygevoeg dat twee senior bestuurslede deur die uitvoerende komitee van die universiteit aangewys is om die konflik in die geledere van die ISR te fasiliteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bruno Stef ·

Ek wil dit net aan die betrokke manupileerders en ondermyners duidelik stel dat die studente se ouers groot bedrae geld spandeer op die kinders se opvoeding.Dit raak my persoonlik as my kleinkind daar studeer en julle met julle kleinlike politiek julle wil op ander wil afdwing. Gaan mors julle tyd by die ander kampusse wat alles om hulle vernietig om hulle sin te kry ons kleinkinders is gedisiplineerd en goed opgevoed.

Anon ·

Byt vas Monica, dit is baie sleg. Staan sterk! Jy het gedoen wat jy voel reg is. Leierskap vat baie guts!!! Jy is in ons gebede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.