Swanger vrou vertel van hameraanval wat verloofde se lewe eis

Karin Louw en Lourens de Lange in gelukkiger dae. Foto: Verskaf

Karin Louw en Lourens de Lange in gelukkiger dae. Foto: Verskaf

In plaas daarvan dat ʼn jong vrou van Secunda in Mpumalanga die finale reëlings vir haar droomtroue tref, moet sy nou help reël aan die pa van haar kinders se begrafnis, nadat sy en haar verloofde Vrydag in die dorp wreed met ʼn tweepondhamer aangeval is.

Karin Louw (23) het Dinsdag aan Maroela Media vertel wat alles gebeur het voordat sy en haar verloofde, Lourens De Lange (23), uit die bloute uit deur ʼn jong man aangeval is.

“Ek en Lourens en ons tweejarige dogtertjie, Natilie, het omstreeks 11:00 dorp toe gestap en het die hoofpad naby die dorp oorgesteek toe ek die man daar sien staan,” het Louw gesê. “Hy het van voor oor die pad gestap gekom en het kalm en rustig gelyk. Ek het glad nie onraad vermoed nie.”

Sy het gesê De Lange het skuins voor hulle oor die pad geloop toe die verdagte skielik ʼn tweepondhamer uitruk en vir hom skreeu, “kom hier jou p**s”, voor hy hom begin slaan het. “Lourens het ná die derde hou geval. Hy is altesaam vyf keer oor die kop geslaan,” het Louw vertel.

Sy het intussen die aanvaller stormgeloop en gestamp, waarna hy haar ook twee keer geslaan het. Sy het wonde op haar voor- en agterkop opgedoen.

“Hy het my in die oë gekyk totdat die bloed oor my gesig geloop het en toe weer ewe rustig weggestap in die rigting van Roy Campbellstraat.”

Die paartjie was glo die aanvaller se derde en vierde slagoffers. Die eerste twee, ʼn mnr. Potgieter en ene Thabo, is kort tevore daar naby aangeval. Die vyfde man, Themba Shabalala (45), is kort daarna ook in Roy Campbellstraat kritiek gewond en is later die dag in die hospitaal dood.

Die verdagte is kort nadat hy Shabalala aangeval het, in hegtenis geneem.

Louw het by De Lange gewag totdat ambulansdienste opgedaag het en hulle na ‘n nabygeleë hospitaal geneem het. Louw is oor die naweek ontslaan en sterk aan by die huis. De Lange is Saterdag breindood verklaar en is Maandag om 15:00 dood verklaar.

Louw en De Lange was vyf jaar saam en sou aan die einde van April getrou het. Louw is ses maande swanger met die paartjie se tweede kind. Sy het gesê haar baba, ‘n dogtertjie, het gelukkig niks tydens die aanval oorgekom nie.

De Lange was ‘n masjienoperateur by ʼn myn in Witbank en het elke dag tussen Secunda en Witbank gereis om by haar en Natilie te wees. “Hy was ʼn wonderlike pa wat goed vir ons gesorg het. Hy was altyd vriendelik en het uit sy pad gegaan om ander mense te help.” Sy het gesê sy sal haar verloofde onthou as iemand wat altyd vrolik, spontaan en grapperig was.

De Lange het graag in sy vrye tyd motorfiets gery en visgevang. Oor naweke het hy en Louw gehalte tyd saam spandeer en hulle het daarvan gehou om by vriende te braai.

De Lange laat Louw, sy dogter Natilie, ongebore baba en ouers, Anton en Elize de Lange, agter.

Klik hier vir sy begrafnisreëlings.

Louw het gesê sy hoop vir die ergste straf vir hul aanvaller. Sy het ook haar bure, David en June Cronje, bedank wat haar ná die aanval baie ondersteun en gehelp het om inligting aan die polisie te verskaf.

Maroela Media het vroeër berig die verdagte, Adam Muller (19), het Maandag in die Secunda-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord en drie van poging tot moord. Hy word ook aangekla van opsetlike saakbeskadiging nadat hy glo ʼn winkelvenster in die sakekern probeer stukkend slaan het.

Die polisie het gesê die rede vir die aanval word nog ondersoek.

Muller moet weer op 28 April in die hof verskyn. Hy bly in aanhouding tot dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Asjas ·

Duidelik dwelms, geen reg denkende persoon tree so op nie.
Die land het ‘n groot probleem, niemand is nerens meer veilig nie.
Waar is sigbare polisieering?

CJAN ·

As hy bedwelmd was/is gaan hy inelk geval nie tronk toe gaan nie. Sorry vir die wat agterbiy.

Babs ·

Sterkte aan die jong man se geliefdes. Spore van dwelms in die bloed – moet dit nie eens noem nie. Almal wat moord pleeg is of op dwelms of dronk. Straf hulle net en klaar.

Gina ·

Dit wys jou weereens. Die doodstraf moet terug gebring word. Die siek vark gaan tronk toe op ons onkostes. Dalk net agt maande en dan is hy weer uit om verder aan te gaan… Dis n lekker nuwe SA????? Wat van die mamma? nog n baba oppad en sy moet haar kinders eendag vertel van die wreedheid in SA. Hoe lank gaan ons wit mense nog plek he in die NUWE SA…. Ons gaan nog moet vlug

Neptunus ·

Behalwe vir sy afstootlike optrede, was dit nodig vir die moordenaar om so vieslik te praat? As hy enigsins klas gehad het sou hy iets soos “Stop… Hammer time” gesê het. Op ‘n ernstige noot, dankie Maroela dat julle my voorstelle vir sy strafoplegging eerder nie geplaas het nie.

Elize ·

Die problem is dat kinders in sa groot word met die idee dat hulle invincible is. Kan doen net wat hulle wil, sonder dinge nagevolge van dade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.