Tiener in Bloemhof doodgeskiet

Die situasie in Boitumelong op 8 April. Foto: SAPD

Die situasie in Boitumelong op 8 April. Foto: SAPD

ʼn Tienerseun is Woensdag in Christiana in Noordwes tydens gewelddadige betogings in die Bloemhof-omgewing doodgeskiet.

Thandi Modise, die premier van Noordwes, het Donderdag in ʼn verklaring gesê die seun was glo deel van ʼn groep betogers wat, op pad na die dorp, winkels in die gebied geplunder het. “Die eienaar van ʼn kroeg het na bewering op die groep geskiet en die seun is noodlottig gewond,” het Modise gesê. Twee ander is in die skietery beseer.

“Ons is hartseer oor die verlies van so ʼn jong lewe in sulke ongelukkige omstandighede. Ons betoon ons medelye aan die familie wat ʼn geliefde verloor het,” het sy bygevoeg. Sy het die gemeenskap vir kalmte gevra. “Alles moet gedoen word om die situasie te laat bedaar en te verhoed dat privaat- en openbare geboue verwoes word.”

Inwoners van die buurdorp, Boitumelong, het verlede week met gewelddadige diensleweringsbetogings begin. Betogers het Maandag die N12-pad versper en verskeie besighede, ʼn munisipale gebou, gemeenskapsaal en vyf huise afgebrand. Die huise behoort aan die burgemeester, twee raadslede en twee polisiebeamptes.

Die betogings het Dinsdag na Coverdale in Christiana uitgebrei, waar die gemeenskapsaal afgebrand is. Altesaam 12 huise van polisiebeamptes is Dinsdag in Boitumelong aan die brand gesteek. Winkels in Bloemhof wat aan uitlanders behoort, is Woensdag geplunder en betogers het die dorp se paaie met brandende bande versper.

Modise en afgevaardigdes van die provinsie gaan Donderdag om 15:00 inwoners van Boitumelong toespreek. ʼn Onafhanklike taakspan is aangestel om die inwoners se klagtes te ondersoek. Inwoners van Bodibe in Itsoseng naby Lichtenburg, sal Vrydag toegespreek word. – SAPA

Lees ook:
Bloemhof brand weer
ANC versoek kalmte in Bloemhof

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

AmY ·

Ek wens die geweldadigheid wil nou end kry. Regtigwaar, hulle verniel ons land.

En nou is een dood, terwyl hy betoog en verwoes en verniel en afgebreek het. En hulle voel hartseer oor die verlore lewe? Ek is nie snaaks nie, maar as hy nie daar was nie, het hy nog gelewe.

Joggie Steyn ·

….ek sal graag wil weet wie die Einstein is wat verantwoordelik was vir hierdie berig…. Met sulke patetiese beriggewing is Maroela nou op dieselfde vlak as die ander groot sensasiebehepte nuusblaaie…

JAVR ·

Jong as jy drama wil sien gaan lees news 24 Joggie! Hier kry mens darem nog ORDENTLIKE nuus

Grassie ·

Wat besig is om in Bloemhof en Christiana te gebeur is nie betogings nie, dit is anargie. Miljoene der miljoene rand se skade is reeds aangerig deur die gepeupel. Dink maar aan die 12 polisiemanne se huise wat afgebrand is. Dit is nie net die geboue wat uitbrand nie – al hul persoonlike eiendom in die huise ook. Dit lyk ook nie vir my of die polisiemanne toegelaat word om hul eiendom met hulle vuurwapens te beskerm nie, dan sou daar mos meer ongevalle gewees het. Wat gaan nou gebeur wanneer die gepeupel begin om blankes se huise aan te val? Gaan ons vervolg word as ons ons eiendom beskerm?
Daar word in die berig vreeslik hartseer en medelye uitgespreek teenoor die arme “tiener” wat geskiet is. Se dinges man. Hy was `n plunderaar en dief en misdadiger en het gekry wat hy verdien.
Op `n ander webwerf het iemand geskryf “Hou die kruit droog en die yster ge-olie” Wyse woorde.

Grassie ·

Maroela – moet julle nie steur aan die ou wat hierbo kom gal braak oor jul beriggewing nie, Jul beriggewing is goed en hou `n mens op hoogte met die nuutste nuusgebeure, Doet so voort.

Joggie Steyn ·

Grassie ou vrind… as jy hier in die kontrei was sou jy presies weet waarvan ek praat… die hele berig is so onsamehangend opgestel met ‘n babelse verwarring van die name van plekke, gebeure ens…. Dit is nie wat ek verwag van ‘n medium waarop ek graag wil staatmaak vir korrektheid van beriggewing nie…. o, amper vergeet Grassie…. sou dit in jou beskeie mening die regte opsie vir die polisie wees om eerder by hul huise te waak as om uit te beweeg en die gepeupel te probeer onder beheer kry?

Grassie ·

Joggie – Maroela is, net soos ek, ook nie in daardie kontrei nie en moet hul berig opstel met stukkies inligting wat hulle bereik. Onder daardie omstandighede dink ek hulle doen goed – in elk geval sommer baie beter as die nuus wat ons op die TV sien. Sovér dit die polisie betref – wanneer hulle huise aangeval word is dit juis een van die brandpunte waar hulle moet orde skep. Ek glo hul families sal hulle ook per selfoon laat weet as `n krisis dreig. Net so terloops – wat sou jou optrede wees as jy `n 9-mil in jou sak het en jy sien dat die gepeupel jou huis aanval en aan die brand begin steek?
`n Voorspoedige dag vir jou verder.

Lee-Ann ·

Met al die dinge in die wereld wat aangaan kan ek wragtig nie glo dat daar nog mense is soos hier bo soos Joggie wat mense onnodig afkraak en sleg se nie. Liewe hemel as jy nie iets goeds te se het nie bly sit!!!! Ek bly ook in die kontrei en sien absoluut niks verkeerd met die berig nie! Jy is kwaad vir jou eie as nou haal jy dit op ander mense uit! Ek sou my skaam as ek jy was!!!!! Jy het goed gedoen Phillip Bruwer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.