Toerbedrog-saak: Verdagte kry borg

Renette Wright (47) en Salome Klopper (54) tydens hul eerste hofverskeining, Foto: GrootFM

Renette Wright (47) en Salome Klopper (54) tydens hul eerste hofverskeining, Foto: GrootFM

Die vrou en sekretaresse van die sogenaamde treintoer-skurk Hendrik Wright, het Maandag in die Pretoria-Noord-landdroshof om borg aansoek gedoen.

Wright, sy vrou Renette en Salome Klopper, die egpaar se sekretaresse, word van bedrog aangekla.

Landdros Pierre Wessels het Klopper op borgtog van R10 000 vrygelaat. Mev. Wright se borgaansoek is tot Maandag uitgestel ten einde die adres wat sy gegee het te bevestig.

“In die stadium blyk dit nie of daar duidelikheid is rakende jou betrokkenheid nie,” het Wessels aan Klopper gesê.

Wessels het ook ‘n dokterverslag rakende mnr. Wright se vordering in die hospitaal versoek.

Konst. John Ramollo, die ondersoekbeampte, het Maandag getuig oor die Wrights se onderneming Zambesi Tours & Safaris.

Volgens Ramollo het hulle toere gereël en dit dan ‘n week voor die vetrekdatum gekanselleer. Die kliënte se geld is dan nie terugbetaal nie.

Ramollo sê die beskuldigdes het meestal pensioenarisse bedrieg. Hy het aan die hof gesê dat die beskuldigdes nie op borg vrygelaat moet word nie aangesien hulle ‘n vlugrisiko is.

Hy sê die Wrights het beplan om landuit te vlug voor hulle in hegtenis geneem is. Ramollo sê die polisie het paspoorte in ‘n motor gevind tydens die arrestasies.

Ramollo sê die beskuldigdes het sakebelange in Namibië en dat dit tydens hul borgaansoek in ag geneem moet word.

Fred Klein, Klopper se regsverteenwoordiger, het Maandag sy kliënt se paspoort by die hof ingedien.

Maroela Media het verlede week berig dat ao. Ben Strydom (47), ʼn speurder van die Sinoville-polisiestasie wat die bedrogsaak ondersoek het, tydens mnr. Wright se arrestasie by sy huis in Montanapark doodgeskiet is.

Mnr. Wright het van die toneel weggejaag en is later deur die polisie op die Moloto-pad aangekeer. Hy het sy motor van die pad afgetrek, die vuurwapen op homself gerig en probeer selfmoord pleeg.

Mev. Wright en Klopper is na afloop hiervan in hegtenis geneem.

Lees ook:
Klank: Verdagtes in toerbedrog-saak in hof
Vakansieslenter: Speurder vandag begrawe
Verdagtes in hof oor vakansieslenter wat tot speurder se dood lei
Paartjie in hof ná speurder se dood
Man skiet PTA-polisieman, homself

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.