Twee dood aangetref in koshuiskamer

Rhodes-Universiteit

Rhodes-Universiteit

ʼn Student aan die Rhodes-Universiteit in die Oos-Kaap en ʼn 34-jarige man is Saterdag dood aangetref in ʼn koshuiskamer by die universiteit.

“Die liggame van die 21-jarige vrou en 34-jarige man is omstreeks 06:00 gevind,” het lt. Luvuyo Mjekula, woordvoerder van die polisie in die Oos-Kaap, gesê. “Daar was geen sigbare beserings aan die vrou se liggaam nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van haar dood bepaal.” Sy was ʼn student aan die universiteit.

Volgens Mjekula het die man ʼn skietwond in sy kop gehad. Hy het vermoedelik homself geskiet.

Vivian de Klerk, dekaan aan die universiteit, het die vrouestudent as Amanda Tweyi uitgeken. “Dit is met diepe berou dat ek vanoggend die dood van een van ons studente, me. Amanda Tweyi, moet aankondig,” het De Klerk geskryf. “Nog ʼn persoon, wat nie ʼn student aan die universiteit was nie, is ook by Cullen Bowles House dood aangetref.”

De Klerk het gesê sy kan nie verdere besonderhede verskaf nie, aangesien die polisieondersoek voortduur.

Tweyi het by Rosa Parks House tuisgegaan en was ʼn tweedejaar B.Sc.-student. Sy is oorspronklik van King Williamstown.

Volgens De Klerk sal studente in albei koshuise berading ontvang. ʼn Gedenkdiens sal binnekort gereël word.

Mjekula sê die man is glo ook van King Williamstown. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.