Twee vas oor Theunissen-plaasaanval

Foto: Argief

Foto: Argief

Die polisie het twee verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op Martie Bester (68), wie se plaashuis buite Theunissen aan die brand gesteek is met haar liggaam binne-in die huis.

Kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die verdagtes, onderskeidelik 21 en 22 jaar oud, is albei van Theunissen. “Die polisie het op drie van die vier vuurwapens beslag gelê, sowel as ammunisie, ʼn rekenaar, juwele, CD’s en klere,” het Nagel gesê.

Die verdagtes moet Woensdag in die Theunissen-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en roof.

Maroela Media het Maandag berig Bester is ʼn weduwee en het alleen op die plaas, Erfbloem, gebly. Die polisie is omstreeks 07:00 in kennis gestel dat ʼn huis op die plaas, sowat 7 km buite Theunissen in die rigting van Welkom, in ligte laaie staan.

“Toe ons daar aankom het ons haar gebrande liggaam in die huis aangetref. Sy was reeds dood,” het sers. Ian Gaobepe, polisiewoordvoerder, Maandag aan Maroela Media gesê. “Dit is nog nie bekend of sy vermoor is voor die huis aan die brand gesteek is, en of sy weens die brand gesterf het nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van haar dood te bepaal.”

Gaobepe het gesê vier vuurwapens en haar bakkie is onder meer tydens die aanval gesteel. Haar bakkie is later verlate op ʼn ander gedeelte van die plaas gevind. Dit was ook uitgebrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vang hulle en HANG hulle! ·

Wel gedaan aan die polisie. Trots op julle. Maar nou gaan die ander wiele begin rol – of sal mens eerder se glad nie rol nie.?? Justisie, Gevangenis diens, Ontsnappings, Nalatigheid – noem dit maar. Dit is soooo jammer hulle het nie vuurwapens wou rig op SAPS nie – dan was ons ontslae van die KK en klomp belasting geld gespaar. Weereens – wel gedaan SAPS.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.