Video van ‘handsakdief’ wat pakslae kry raak gewild

Phillip Basson saam met 'n vriendin van die vrou wie se handsak gesteel is. Die is 'n skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

Phillip Basson saam met ‘n vriendin van die vrou wie se handsak gesteel is. Die is ‘n skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

ʼn Video wat verlede week op YouTube gelaai is van ʼn vermeende handsakdief wat deur ʼn span loodgieters aangekeer is kort nadat hy ʼn vrou van Witbank in Mpumalanga se handsak gesteel het, is reeds meer as 150 000 keer gekyk.

Maroela Media het verlede week berig die span van Magic Plumbing los nie net die dorp se rioolprobleme op nie, maar is ook bereid om boewe te help vastrek.

Phillip Basson, eienaar van Magic Plumbing, en sy span het verlede Dinsdag omstreeks 08:30 in twee afsonderlike voertuie in OR Tambo-weg gery toe hy by ʼn verkeerslig vier vroue hoor gil. Die vroue is huiswerkers en het saam in ʼn groepie gestaan toe ʼn man met rastalokke een van hulle se handsak gegryp en laat spaander het. Die verdagte het in die veld in gehardloop in ʼn poging om weg te kom.

Basson het besluit om die booswig agterna te sit. Sy span het sy voorbeeld gevolg en gou by hom aangesluit. Hulle het die verdagte vinnig aangekeer en soos ʼn sak patats terug tot by hul bakkie gedra waar hulle die vrou se handsak aan haar terugbesorg het.

Die verdagte het nie tyd gehad om enigiets uit die handsak te steel nie.

Die hele gedoente het voor die gemeenskapskoerant Witbank Nuus se kantoor plaasgevind en hul verslaggewers was spoedig op die toneel om dit op film vas te lê. Hulle het ʼn video van die voorval geneem en dit op YouTube gelaai. Die video was ʼn dag ná die voorval reeds sowat 6 000 keer gekyk.

Basson het Vrydag aan Maroela Media gesê hy is verbaas dat die video soveel aandag op sosiale media gekry het. Die video word selfs wêreldwyd gekyk. “Mense het laat weet dit lyk vir hulle soos ʼn toneel uit ʼn Leon Schuster-fliek,” het Basson gesê.

Hy het egter geskerts hy en sy span het nog nie in rolprentsterre ontaard nie, maar dat hulle darem baie gelukwensings kry. “Dan en wan bel iemand my en wens my geluk dat ons die vrou gehelp het. Baie mense lewer egter kommentaar op die video en sê ‘give that man a Bells’, maar nog niemand het vir my ʼn Bells gegee. Ek moet maar my eie koop,” het hy geskerts.

Intussen is die vermeende handsakdief, vermoedelik van Midrand tussen Pretoria en Johannesburg, weer terug op die straat nadat die slagoffer vandeesweek die saak teen hom laat vaar het.

“Die vrou het in die hof laat weet dat sy glo nie met die saak wil voortgaan nie, aangesien sy al haar besittings teruggekry het,” het kapt. Eddie Hall, woordvoerder van die Witbank-polisie, aan Maroela Media gesê. “Hy was darem vir sewe dae in aanhouding en sal hopelik twee keer dink voor hy weer iets by iemand in die dorp wil steel.”

https://youtu.be/a3ZVUVXIbmY

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

pop ·

Phillip jou ma se bors is seker geswel van trots. Mooi gedaan aan sy spannetjie werkers ook.

Eliza-beth ·

Soms dink ek ek het al 100 000 van die 150 000 kere gekyk want kyk, hierdie het ek nou vreeslik geniet. Veral aan die einde waar die mama vir hom in hul taal sê “you are going to die” nadat sy hom skelm en tsotsi genoem en goed bygekom het. Lag my steeds elke keer pap!

Elma Tiran ·

Wel hier sal n BAIE BAIE GROOOOOOT iets gebeur om die land reg te ruk , want so kan dit werklik nie aangaan nie…wat dit sal wees weet ek nie…

Cecilia Behrens ·

Mense die land het handuit geruk.Zuma het net Nkantla…kan dit nie eers spel nie….op sy brein…en sy klomp vrouens….en wat jy nog kan verorber!!! Nee,nee hierdie ou gaan die land in sy peetjie in bestuur!! Mense maak julle oe oop….julle wat in die parlement sit…..

Weet julle dat ons elke aand om 9uur vir die land bid dat reg en geregtigheid sal geskied en dat ons almal weer veilig en vreedsaam sal lewe sonder geweld,bedrog en diefstal en ook moord.
Die nuus wat nie almal wil hoor is dat NET DIE VADER ONS HIERDEUR KAN SIEN.MAG DIT SO WEES IN SY HEILIGE NAAM.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.