Videowebtuiste van skoolgevegte ‘hits geweld aan’

'n Skermskoot van die webtuiste

‘n Skermskoot van die webtuiste

‘n Webtuiste wat video’s van gevegte tussen skoolkinders oplaai hits openbare geweldpleging aan en moet onmiddellik verwyder word, sê ‘n opvoedkundige sielkundige aan die Universiteit van Pretoria.

Op die webtuiste www.schoolfights.co.za word video’s opgelaai van skoolkinders wat baklei en word mense aangemoedig om video’s in te stuur en moontlik betaling daarvoor te ontvang. Van die video’s is van voorvalle waaroor daar reeds in die media berig is.

Prof. Kobus Maree het aan Maroela Media gesê die webtuiste is op dieselfde vlak as bloedsport. “In ‘n land deurdrenk van misdaad en waar geweld toeneem is só ‘n webtuiste onverstaanbaar en onverantwoordelik. Dit moet ten sterkste veroordeel word. Nagenoeg 50 000 mense word per jaar in die land vermoor en verantwoordelike mense moet alles in hulle vermoë doen om gemoedere te kalmeer.”

Maree sê die webtuiste moedig openbare geweldpleging aan en is beslis onwettig. “Die skuldiges behoort in hegtenis geneem te word en moet in die hof gaan staan en verduidelik hoekom hulle hulself tot dié gedrag wend vir finansiële gewin. Hierdie webtuiste verdien die rooilig en moet onmiddellik verwyder word. Dit is soortgelyk aan mense wat Amerikaanse veghonde vir hondegevegte gebruik. Dit is onwettig om diere mekaar te laat aanval en sekerlik is dit ook onwettig om mense dit te laat doen.”

Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê kinders is vir die organisasie baie belangrik en dat hulle sal ondersoek instel na stappe wat geneem kan word om die webtuiste te verwyder.

Maroela Media kon nie onmiddellik kommentaar van die polisie bekom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.