Vierde Pretoria-selfoonwinkel binne een maand beroof

Argieffoto

Argieffoto

Vier selfoonwinkels is die afgelope vier weke in gewilde winkelsentrums dwarsoor Pretoria beroof.

In die jongste voorval het drie gewapende mans Mandagaand net voor sluitingstyd op die Vodacom-selfoonwinkel in die nuwe Forest Hill-winkelsentrum in Monavoni‎, Centurion toegeslaan.

Kapt. Agnes Huma, ʼn polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die rowers het vuurwapens op die werkers gerig en selfone, slimfone en tabletrekenaars uit die kluis geëis, voor hulle van die toneel gevlug het.

“Niemand is tydens die rooftog beseer nie, en geen skote is gevuur nie,” het Huma gesê. Die verdagtes het glo in ʼn silwer Audi sonder ʼn nommerplaat gevlug. Die polisie ondersoek ʼn saak van besigheidsroof. Mense met meer inligting oor die voorval kan die Olievenhoutbosch-polisiestasie by 012 652 0083 bel.

Die Telkom-selfoonwinkel in die Centurion Mall is op 15 Julie ook voor sluitingstyd van nagenoeg R1,2 miljoen se selfone, slimfone en tabletrekenaars beroof. Na wat verneem word was ses rowers by die voorval betrokke. Niemand is tydens die rooftog beseer nie.

ʼn Bende van ses of sewe swaargewapende mans het op 8 Julie op die Vodacom-selfoonwinkel in Northpark Mall, in die noorde van Pretoria, toegeslaan. Skote is gevuur en ʼn omstander is gewond voordat die mans in ʼn wit Nissan-bakkie sonder nommerplate gevlug het.

Die Vodacom-selfoonwinkel in Mayville Mall, in Pretoria se Moot-gebied het ʼn week tevore, op 3 Julie, onder die bende deurgeloop. Ses gewapende mans het in ʼn wit Toyota Hilux-bakkie met die registrasienommer BV28BJGP gevlug. Twee omstanders is tydens die rooftog beseer.

Die polisie ondersoek die moontlikheid of die rooftogte aan mekaar verbind kan word. Huma kon nie bevestig of enigiemand al in verband met enige van die vorige rooftogte in hegtenis geneem is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.