Waarnemende SAL-hoof sê oor kwalifikasie

Argieffoto

Argieffoto

Nico Bezuidenhout, waarnemende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het Dinsdag bevestig dat die SAL, personeel van Mango en Mango se raad nog altyd geweet het dat hy nie ʼn graad het nie, berig die SAUK.

“Ek glo nie die feit dat ek nie ʼn akademiese kwalifikasie gehad het toe ek in 2006 by Mango aangestel is, het enige invloed gehad nie,” het Bezuidenhout gesê. “My personeel, die aandeelhouers [SAL], die raad, en almal by wie ek betrokke was, het nog altyd geweet dat ek nie ʼn graad het nie, en het my nog altyd ondersteun. Wat wel respek en ondersteuning van my wegneem is die valse aantygings dat ek oor my kwalifikasies gejok of inligting gemanipuleer het.”

SAL het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hy staan by sy besluit om Bezuidenhout as waarnemende hoof van die lugredery aan te stel.

Die Sunday Times het Sondag berig Bezuidenhout is een van ʼn paar uitvoerende lede of politici wie se wanvoorstelling oor hul kwalifikasies aan die lig gekom het.

Die SAL het vroeër vandeesweek erken dat sy 2011- en 2012-jaarverslae verkeerd was om aan te dui dat Bezuidenhout oor ʼn BCom-graad in vervoerekonomie en bedryfsielkunde sowel as ʼn MBA beskik. Die lugredery se raad het Dinsdag gesê Bezuidenhout het van die eerste dag af nooit aangevoer dat hy oor tersiêre kwalifikasies beskik nie. “Enige bewering dat mnr. Bezuidenhout sy kwalifikasies wanvoorgestel het, is heeltemal onwaar.”

Die raad het bevestig dat die verkeerde inligting so gou as moontlik, in die 2013-jaarverslag, reggestel is. “Die fout is nie op enige ander plek gepubliseer nie en openbare dokumente het aangedui dat Bezuidenhout nooit valslik aangevoer het dat hy oor kwalifikasies beskik of dat hy enigsins probeer het om iemand om die bos te lei nie.”

Mango het Maandag ook bevestig Bezuidenhout het nooit ʼn wanvoorstelling van sy kwalifikasies aan die lugredery gemaak nie. “Die mediadekking die afgelope naweek, as ʼn gevolg van ʼn fout deur Mango se aandeelhouer, SAL, is betreurenswaardig,” het Rashid Wally, voorsitter van Mango, in ʼn verklaring gesê.

Bezuidehout was agt jaar lank aan die hoof van Mango en Wally het hom beskryf as ʼn bekwame uitvoerende hoof.

Bezuidenhout is vroeër die maand weer as waarnemende hoof van SAL aangestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish! ·

Een instansie wat nie konfyt om die mond gesmeer is met ‘n vals gekoopte graad nie! SAL het verkies om vir bekwaamheid te betaal. 10 uit 10!

Leeutjie ·

Se ek ook Eish… Stem saam! Ek was so bly toe ek hoor dat SAL ‘n Bezuidenhout aangestel het in ‘n waarnemende posisie. Hoop dit bly so!

Harry ·

Die gaan vir my nie oor die graad nie, maar wel om valslik voor te gee om ‘n graad te he, soos daai vrou en man van die SABC. Ek haal my hoed af vir Pallo Jordan, hy het nie gese hy het ‘n graad nie, maar is aan hom toe gedig weens ‘n media fout. Toe dit op die lappe kom het hy bedank, nie in ‘n hof probeer om die liegstorie te verdedig nie.

Eben ·

Nico Bezuidenhout geen probleem in my oë en ten minste is jy eerlik genoeg. Lê laag en doen jou werk na die beste van jou vermoe. Troos jou daaraan zuma het grd 3 …… Sterkte

EMK ·

Dis ook nie altyd ‘n graad wat gaan maak dat jy die beste bestuurder is nie. In sekere beroepe is ‘n graad natuurlik ‘n voorvereiste weens die tipe werk wat gedoen word (dokters, prokureurs, wetenskaplikes ens) maar nie in alle beroepe nie. Sover ek weet het Mnr Bezuidenhout jare ondervinding van die reisbedryf en weet dus waar probleme mag lê en hoe om dit reg te stel en dis waarom hy die pos gekry het. Soms is jare se ondervinding en werk in die bedryf self en dan opwerk van junior na ‘n hoër posisie die beste manier om die regte bestuurder te kan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.