Wildtuin gaan van sy renosters hervestig

Foto: www.rhinoconservation.org

Foto: www.rhinoconservation.org

Renosters in die oostelike grensgebied van die Krugerwildtuin gaan na sogenaamde “veilige vestings” binne en buite die wildtuin hervestig word in ‘n poging om hulle van stropers te beskerm.

Edna Molewa, minister van omgewingsake, het tydens ‘n mediakonferensie bekend gemaak dat haar departement ook oorweeg om van die renosters in ander lande te hervestig.

“Suid-Afrika oorweeg ‘n reeks veilige vestings vir die renosters, insluitend nasionale parke, provinsiale reservate, gemeenskaplike areas en private reservate.”

Molewa sê daar word ook oorweeg om renosters in Zambië en Botswana te hervestig.

Sy sê daar gaan “beskerming-sones” in die wildtuin geïdentifiseer word ten einde die bedreiging vir renosters te probeer verminder.

“Verskeie gevorderde tegnologiese metodes word ondersoek om teenstropery-spanne te help om renosters te beskerm.”

Sam Ferreira, soogdier-ekoloog by SANParke, sê nagenoeg 500 renosters gaan moontlik hervestig word.

“Indien jy ‘n renoster ‘n kans wil gee, verwyder jy hulle van die plekke waar hulle ‘n groot kans staan om doodgemaak te word.”

Molewa sê daar is sedert Januarie tot 6 Augustus vanjaar ‘n totaal van 631 renosters in Suid-Afrika gestroop, waarvan 408 in die Krugerwildtuin.

‘n Onlangse opname oor die renosterbevolking in die Krugerwildtuin het aan die lig gebring dat daar tans tussen 8 400 en 9 600 witrenosters in die wildtuin is.

Molewa sê die aantal renosters wat weens stropery, natuurlike sterftes en verskuiwing vir die Krugerwildtuin verlore gaan, is gelyk aan die aantal renostergeboortes in die wildtuin.

Ferreira sê die koers waarteen renosters in wildtuin gebore word staan tans op 8%, terwyl die koers van natuurlike sterftes tans op ongeveer 2% staan en die stroperykoers tans ongeveer 6% is.

Hy sê dit is belangrik om daarop te let dat daar in 1960 geen renosters in die Krugerwildtuin was nie. Hy sê 350 renosters is van KwaZulu-Natal gebring en in die wildtuin hervestig.

Teen 2010 was daar tussen 8 700 en 12 200 renosters in die Krugerwildtuin.

Ferreira sê dit is ook belangrik om daarop te let dat die totale renosterbevolking in Suid-Afrika steeds toeneem.

Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, het tydens die mediakonferensie gesê Suid-Afrika het ‘n ooreenkoms met Mosambiek waarvolgens polisielede stropers oor die land se grens mag agternasit.

Phiyega sê die polisie se spesiale taakmag, die lugvleuel-eenheid, honde-eenheid en forensiese-eenheid is in die stryd teen renosterstropery betrokke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.