Swemkampioenskap uitgestel weens vuil swembad

Die vuil Newtonpark-swembad in Port Elizabeth Foto: Ockert de Villiers/SAPA

Die tweede dag van die Suid-Afrikaanse swemkampioenskap in Port Elizabeth is uitgestel weens die swak gehalte van die water by die Newtonpark-swembad.

Organiseerders het gesê die toernooi sal Woensdag hervat. ‘n Gebarste pyp by die swembad, wat verlede week nog helder water gehad het, het die water glo ‘n dag voor die aanvangs van die toernooi grasgroen verkleur. Die watergehalte het ernstige probleme op die eerste dag van die kampioenskap veroorsaak, wat ook as uitdunne vir hierdie jaar se wêreldswemkampioenskap dien.

Deelnemers het gesukkel om te sien waarheen hulle swem en kon ook nie by die muur omdraai nie.

Net ná Maandag se aandsessie afgehandel is, het personeel begin om die swembad te behandel om die helderheid te verbeter, maar teen Dinsdagoggend was die water nog nie helder genoeg nie. Werknemers van die munisipaliteit het vroeër Dinsdag nog nie met verdere behandeling van die water begin nie, en die program, wat aanvanklik om 09:30 sou begin, is na 10:30 uitgestel. Daarna is dit vir nog ‘n uur uitgestel voordat organiseerders die dag gekanselleer het.

“Niemand kan vir die gebarste pyp blameer word nie,” het Marion Harning, raadslid van die Nelson Mandela Bay Metropolitaanse munisipaliteit, gesê. Swem SA het gesê die situasie is buite hul beheer, aangesien die munisipaliteit vir die swembad verantwoordelik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.