Tuinier van PTA skuldig bevind op wrede moord

ʼn Man van Mamelodi is Donderdag daarvan skuldig bevind dat hy sy voormalige werkgewer drie jaar gelede tydens ʼn gewelddadige huisroof in Waverley vermoor het.

Die hooggeregshof in Pretoria het Petrus Moloko (26) skuldig bevind op die moord van die 64-jarige boukontrakteur Andries Pretorius wat in Augustus 2009 plaasgevind het. Pretorius se vinger is afgesny en hy is wreedaardig met ʼn leë whisky-bottel aangeval. Hy is met sy eie toue vasgebind en het op sy bed doodgebloei terwyl sy aanvallers sy huis geplunder, sy goedere in sy voertuig gelaai en gevlug het.

Regter Msimeki sê dit is duidelik dat die aanvallers deur hebsug gemotiveer is. Hulle het maksimum geweld gebruik en kon voorsien dat hul slagoffer sou sterf indien hy nie hulp kry nie, maar hulle het nietemin voortgegaan. Hulle het nie na die slagoffer teruggegaan of omgegee of hy leef of gesterf het nie. Moloko se DNA is aan ʼn sigaretstompie op die moordtoneel gekoppel. Die regter het die moontlikheid dat die stompie daar gelaat is terwyl Moloko vroeër in die huis gewerk het, afgemaak.

Die hof het die bewys van die self-erkende moordenaar Teko Radebe (26) aanvaar wat verlede jaar tot 22 jaar tronkstraf gevonnis is nadat hy sy betrokkenheid in die moord bely het. Radebe het getuig dat hy en Moloko die roof beplan en uitgevoer het. Hulle het die aanval by ʼn kroeg begin beplan kort nadat Moloko gesê het dat Pretorius hom glo geld skuld, aangesien hy vroeër ʼn kopbesering by die werk opgedoen het.

Radebe sê hulle het ʼn vensterraam aan die agterkant van die huis verwyder, maar Pretorius was agter ʼn geslote deur aan die slaap toe hulle die huis binnegegaan het. Hulle het in die eetkamer sit en whisky drink totdat Pretorius wakker geword het, aangesien hulle doel nie was om “soontoe te gaan en weg te hardloop” nie.

ʼn Stoeiery het ontstaan en Pretorius is op die kop getref met ʼn leë drankbottel en hy is herhaaldelik gesteek. Radebe sê hul slagoffer het na sy kamer gehardloop en probeer om homself met sy vuurwapen te verdedig, maar die twee rowers het hom weer aangeval en hom toe vasgebind voordat hulle die huis geplunder het.

Hy kon nie verduidelik wanneer of waarom Pretorius se vinger afgesny is nie.

Hulle het daarna na ʼn handelaar gegaan wat die voertuig uitmekaar gehaal het en ʼn eerste paaiement ter waarde van R1 000 aan Radebe oorbetaal het. ʼn Derde aangeklaagde, Johnson Ramorei is op beide aanklagte van roof en moord vrygespreek.

Ramorei het erken dat hy Pretorius se selfoon aan ʼn vrou verkoop het, dat hy Moloko na die handelaar geneem het en hulle gehelp het om hul vonds te vervoer. Hy was nie bewus van die moord en roof nie, het hy gesê.

Radebe wat as ʼn getuie vir die verdediging geroep is, het Ramorei se weergawe ondersteun. Tydens sy uitspraak Donderdag, het Msimeki gesê dat Ramorei se weergawe moontlik waar is en dat hy die voordeel van die twyfel moet ontvang. Vermoede alleen is nie genoeg om Ramorei skuldig te bevind nie en hy is ook nie deur DNA of vingerafdruk-bewyse aan die moord en roof gekoppel nie.

Die verhoor duur voort op 4 Mei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.