Tutu steun gay-gelykheid

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu. Foto: Ilan Godfrey/Templeton Prize/SAPA

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het Vrydag gesê hy dien nie ‘n “homofobiese God” nie.

“Ek sal weier om na ‘n homofobiese hemel toe te gaan,” het Tutu in Kaapstad aan verslaggewers gesê. “Nee, ek sal sê jammer. Ek bedoel, ek sal eerder na daardie ander plek toe gaan.”

“Ons moet ‘n samelewing bou wat mense aanvaar en dit is nie ‘n vrye samelewing tot elke enkele persoon weet dat hulle erken en aanvaar word vir wie hulle is nie.”

Tutu het sy toespraak gelewer by die bekendstelling van die Verenigde Nasies se wêreldwye “Vryheid en Gelykheidsveldtog” vir gay (LGBT)-gelykheid in Kaapstad. Die veldtog poog om bewusmaking te skep oor homofobiese geweld en diskriminasie. Tutu sê talle mense voel dat hulle nie gemaklik kan wees in hul eie vel nie, weens moontlike spottery.

“Dit kan nie bloot net ‘n keuse wees om daardie leefstyl te volg indien die persoon weet watter groot bevooroordeling en moontlike geweld hulle te wagte kan wees nie,” het hy gesê. Hy sê hy is bewus daarvan dat talle geestelike leiers die idee bevorder dat dit ‘n sonde is om enigiets behalwe heteroseksueel te wees. “Dis ‘n groot kommer vir baie van ons as hulle moet dink dat God iemand sal skep en sê ‘Ek haat jou. Ek haat jou vir wie ek jou gemaak het om te wees’.”

Tutu sê Suid-Afrika moet diskriminasie teen seksuele oriëntering verwerp, net soos die land met rassisme gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nell ·

Wees versigtig vir wat jy wens Tutu. Dit mag waar word indien jy ongered is.

Paul ·

Ons kan maar net hoop en bid dat hulle, soos enige ander sondaar in God se oë gered sal word want hulle leefwyse is vir God onaanvaarbaar en as hulle dit nie bely nie dan sê die Woord van God: “Verskriklik is dit om te val in die hande van die Lewende God!” Miskien moet iemand vir Tutu ‘n bybel gee sonder die bladsy wat homoseksualiteit veroordeel.

Neil Prinsloo ·

“Net omdat iets in die Bybel staan, is dit noodwendig waar nie.” – Desmond Tutu.

Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was daar ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: “…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is” (1 Joh 4:1) en: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…” (2 Joh:10).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.