Twee seuns steeds kritiek ná weerlig hul tref

King Edward VII-skool. Foto: Google Street View

Vier van die nege King Edward VII skoolseuns wat laat Dinsdagmiddag deur weerlig getref is, is uit die hospitaal ontslaan.

Drie van die seuns moes Dinsdagaand in die Milpark-hospitaal oorbly vir observasie terwyl twee steeds in ʼn kritieke toestand is. “Al die boodskappe vir ons seuns is regtig ongelooflik. King Edward VII-skool sal sterk bly gedurende die moeilike tyd,” het die skool op sy Twitter-blad gesê. Maroela Media het vroeër berig dat die seuns, tussen die ouderdomme van 16 en 18, deel is van die skool se eerste krieketspan en glo met ʼn oefening besig was toe hulle deur die weerlig raakgeslaan is op die skool se sportgronde in Johannesburg. MedixGauteng het op Twitter gesê dat daar ʼn paramedikus was wat die voorval aanskou het en onmiddellik mond-tot-mond-asemhaling op die seuns toegepas het. Die Gautengse departement van onderwys sê intussen dit is nog nie duidelik presies wat gebeur het nie. Charles Pahlane, woordvoerder van die departement, sê traumaberaders sal Woensdag na die skool gestuur word.

King Edward VII (KES) is ʼn spogskool in Houghton in Johannesburg en het al krieketlegendes soos die Proteas-kaptein Graeme Smith opgelewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.