Twee van Waterkloof-4 gaan appelleer

Gert van Schalkwyk (links) en Reinach Tiedt (regs) Foto: SAPA

Twee van die sogenaamde Waterkloof-vier het die Pretoriase hooggeregshof in kennis gestel dat hulle beplan om appèl aan te teken teen ʼn hofbevel wat hulle dwing om op 10 Julie terug te keer tronk toe, het Beeld Vrydag berig.

“Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk sal “emosioneel en finansieel gebroke wees” indien hulle na die tronk moet terugkeer,” het Jenny Brewis, hul prokureur, gesê.

Die twee mans het tot Donderdag om die hof in kennis te stel indien hulle beplan om appèl aan te teken teen die hofuitspraak van verlede maand.

Regter Hans Fabricius het die lasbrief vir die paar se vrylating, wat op 15 Desember 2011 onderteken is, tersyde gestel. Hy het bevind dat hul vonnisse nie na korrektiewe toesig verander moes word nie.

Die twee het reeds drie jaar en vier maande tronkstraf uitgedien. Tiedt, Van Schalkwyk, Christoff Becker en Frikkie du Preez is elk 12 jaar tronkstraf opgelê ndat hulle in 2001 ʼn hawelose man in Moreletapark in Pretoria vermoor het.

Tiedt en Van Schalkwyk is op 19 Desember 2011 deur landdros Peet Johnson in die Pretoriase streekshof vrygelaat op grond van ʼn aanbeveling van die Zonderwater korrektiewetoesig- en paroolraad.

Brewis het gesê die kennisgewing van die appèlaansoek beteken dat haar kliënte nie dadelik hoef terug te keer tronk toe nie.

Becker en Du Preez dien steeds hul gevangenisstraf uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.