Twee van Waterkloof-vier moet terug tronk toe

Gert van Schalkwyk (links) en Reinach Tiedt (regs). Foto’s: SAPA

Twee van die sogenaamde Waterkloof-vier wat 18 maande gelede onder korrektiewe toesig uit die tronk uit vrygelaat is, is aangesê om terug te gaan tronk toe.

Drie regters het Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof beveel dat Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk op 10 Julie weer by die Zonderwater-gevangenis in Cullinan moet aanmeld, het Beeld Donderdag berig.

Tiedt en Van Schalkwyk het reeds sowat ʼn drie en ʼn half jaar in die tronk spandeer. Die twee, saam met Christoff Becker en Frikkie du Preez, is elk tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle ʼn man in ʼn park in Pretoria in 2001 doodgeslaan het.

“Ons is verstom. Ons verstaan dit nie,” het Tiedt se pa, Christoff, gesê.

Jenny Brewis, die twee se prokureur, het gesê hulle moet nog die hof se beslissing bestudeer en besluit of hulle gaan aansoek doen om verlof tot appèl.

Regter Hans Fabricius het Woensdag in die beslissing gesê dit sou uiters onbillik gewees het om te beveel dat Tiedt en Van Schalkwyk dadelik terug moes gaan tronk toe, aangesien albei werk en ander verantwoordelikhede het. Die regters het streeklanddros Peet Johnson se bevel van 15 Desember 2011 tersyde gestel. Dié bevel het die twee se tronkstraf in korrektiewe toesig omskep. Die minister van die departement van korrektiewe dienste (DKD) en die DKD-kommissaris het daarna ʼn aansoek gebring dat Johnson se bevel tersyde gestel word.

Fabricius het gesê die Strafproseswet verklaar duidelik dat so ’n omskeppingsaansoek nie ingedien kan word as ’n gevangene se vrylatingsdatum meer as vyf jaar in die toekoms is nie.

Die DKD het Donderdag die beslissing verwelkom.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.