UJ-stormloop: meer inligting

Die ry buite die Universiteit van Johannesburg. Foto: Taurai Maduna, EWN

Die moeder van ʼn voornemende student is Dinsdagoggend dood en 20 mense beseer tydens ʼn stormloop by die Universiteit van Johannesburg (UJ), het Johannesburgse Nooddienste gesê.

“Daar was 20 beseerde pasiënte en die vrou wat dood is was die ma van een van die voornemende studente,” het woordvoerder Nana Radebe gesê. Twee van die beseerdes is tans in ʼn kritieke toestand in die hospitaal. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, sal vanmiddag die media oor die voorval toespreek. Intussen staan duisende geskokte voornemende studente en hul ouers steeds buite die universiteit se hek in ʼn poging om vir die 2012 akademiese jaar te registreer. “Ek was baie geskok om te hoor dat iemand dood is,” het Jane Monare gesê, wat saam met haar dogter van Bethlehem af gery het om vir meganiese ingenieurswese in te skryf. “Ek wonder hoekom die universiteit se administrasie-afdeling nog nie iets gedoen het om dié probleem te verhoed nie,” het sy gesê. Verlate komberse, klere en skoene – waarvan meeste nat is weens gisteraand se reën – lê oor die plaveisel buite die Buntingweg-ingang na UJ gestrooi. Talle ambulanse en polisievoertuie staan steeds by die ingang geparkeer en die polisie en sekuriteitspersoneel van die universiteit wil niemand binne toelaat nie.

“Niemand vertel ons wat gebeur het nie,” sê Monare. “Ek wens die opvoedingstelsel kan verbeter word om sulke voorvalle te verhoed.” Verskeie voornemende studente het op die plaveisel geslaap en gewag dat die hek moet oopmaak. Carol Mkhonto, van die Oos-Kaap, was sowat 300m voor die hoofhek voor die stormloop plaasgevind het. Sy wou haar aansoek nagaan. Sy het laas week probeer, maar is aangesê dat die aansoek nie “in die stelsel” was nie, so sy het ʼn tweede poging aangewend. “Ek voel baie sleg hieroor,” het sy gesê. Volgens Mkhonto is die probleem vererger aangesien persone wat terugkeer vir verdere studie in dieselfde ry moet staan as persone wat vir die eerste keer vir tersiêre opleiding inskryf.

Radebe het gesê hulle het omstreeks 07:30 ʼn oproep ontvang dat ʼn stormloop buite die hek plaasgevind het. Die beseerdes is in ʼn noodvoertuig by die universiteit behandel en toe na die hospitaal geneem. Een van die pasiënte wat in ʼn kritieke toestand was met kop- en borsbeserings, is na die Charlotte Maxeke Johannesburgse Akademiese Hospitaal vir verdere behandeling geneem, het Jeff Wicks, woordvoerder vir Netcare911 gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.