Vakbond vra belastingkorting vir veiligheidsdienste

Die vakbond Solidariteit het Woensdag ’n omvattende veldtog van stapel gestuur om druk op die regering uit te oefen om ’n belastingkorting te gee aan belastingbetalers wat stappe neem om hulself te beveilig. Volgens ’n verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut wat ook by die geleentheid bekend gestel is, misluk die regering in sy primêre funksie om Suid-Afrika se inwoners te beskerm. Suid-Afrikaners dra derhalwe deurlopend ’n finansiële las om hulself en hul gesinne te beveilig.

Dirk Hermann, die adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het gesê dat die staat volgens die verslag ver te kort skiet wat betref die vervulling van sy rol om wet en orde te handhaaf, en dat Suid-Afrikaners self verantwoordelikheid aanvaar om die land ’n veiliger plek te maak. “Suid-Afrikaners onderhou ’n private veiligheidsbedryf van oor die 400 000 aktiewe sekuriteitsbeamptes. Die feit dat die meer as 400 000 private sekuriteitsbeamptes getallegewys die beamptes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bykans drie teen een oortref, bied stille getuienis van die SAPD se tekortkominge. Die aantal geregistreerde aktiewe private sekuriteitsbeamptes het tussen 2001 en 2011 meer as verdubbel van 194 525 tot 411 109. In 2011 was daar bykans 9 000 aktiewe geregistreerde veiligheidsmaatskappye.”

Volgens Hermann betaal ’n belastingbetaler wat R300 000 per jaar verdien jaarliks sowat R83 350 aan inkomstebelasting, brandstofheffings en belasting op toegevoegde waarde. Teenoor dié reeds buitensporige belastinglas stel Hermann die feit dat so ’n belastingbetaler in ’n metropolitaanse area bykomend sowat R10 400 per jaar vir sy of haar eie beveiliging en dié van sy of haar gesin betaal en so instaan vir wat die staat veronderstel was om te doen. “R10 400 is ’n redelike beraming van die totale bydraes aan verskaffers van veiligheidsdienste, soos gewapende reaksie, voertuigopsporingsmaatskappye en huishoudelike versekeraars. Boonop is die meeste van die werklike koste verbonde aan misdaadvoorkoming nie in berekening gebring nie omdat dit uiteraard nie maklik berekenbaar is nie. Sodanige koste sluit in die koste verbonde aan verhuising na veiliger buurte, om nie saans te kan gaan stap nie, die sielkundige trauma in afwagting van en na aanleiding van misdaad, en so meer.”

Suid-Afrikaners doen duidelik en tot ’n beduidende mate self hul eie misdaadbekamping. “In hierdie verband moet kennis geneem word van die presedent wat bestaan ingevolge waarvan burgers in aanmerking kom vir belastingverligting as hulle voorsiening maak vir hul eie mediese sorg en sodoende die las op die staat se gesondheidsorgstelsel verlig. Soos die belastingstelsel tans daar uitsien, ontvang Suid-Afrikaanse belastingbetalers belastingkortings op hul mediese uitgawes. Misdaadbekamping deur Suid-Afrikaners behoort insgelyks belastingbetalers in aanmerking te laat kom vir belastingkortings aangesien hulle die las op die staat se beskermingsdienste verlig,” het Hermann bygevoeg.

Solidariteit beplan om met hierdie veldtog derduisende petisies aan Pravin Gordhan, die minister van finansies, te stuur. Twitter, Facebook, SMS’e en webwerwe sal gebruik word om mense op groot skaal te mobiliseer om die oproep om belastingkortings op veiligheidsdienste te steun. Mense kan via die webwerf, www.geeditterug.co.za, petisiebriewe direk aan minister Gordhan stuur en die veldtog kan gevolg word op Twitter by #GeeDitTerug. Beswaar kan ook aangeteken word deur bloot die woord, “Taks” na 34388 te SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gawie Botha ·

Was dit nie vir die Burger van die land wat sekuriteits maatreels ingestel en in werking geplaas het,te wete Assuransie Mpye,sekuriteits Firmas,en aankoop van sekuriteits toerusting,wat meegehelp het,dat werkloosheid teengewerk word,(Poste geskep)sou Suid Afrika op hierdie stadium al n groter land van Arnagie in die Wereld gewees het,as wat dit nou is!

Die staat se eerste linie van verdediging naamlik die SAPD ry op die rug van hierdie sekuriteits firmas,en het n enorme voordeel by die bekamping van misdaad,dus kan die Staat die Burgers van die land wat bydrae tot selfbeskerming van misdaad en sodoende die las op die SAPD verlig,,,,toesien dat erkening gegee word in die vorm van “Belasting -Verligting”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.