Vavi afgepers in verkragting-skandaal

Zwelinzima Vavi

Zwelinzima Vavi, uitvoerende hoof van Cosatu, het Saterdag bewerings ontken dat hy ‘n vroulike kollega verkrag het.

“Ek ontken geheel en al dat ek op 25 Januarie 2013 na die klaagster se kantoor gegaan, haar “gegryp”, gesoen, haar privaatdele betas en haar verkrag het,” het Vavi gesê.

Vavi het in ‘n persverklaring gesê hy glo die bewerings teen hom is deel van ‘n komplot om hom te diskrediteer of om hom af te pers.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, kon nie dadelik bevestig of enige kriminele klag van verkragting of uitbuiting in verband met die saak oopgemaak is nie.

“Al ons ontmoetings was tussen twee instemmende volwassenes wat duidelik gevoelens vir mekaar gehad het. Ek sukkel nou al jare lank met dreigemente teen my lewe, politieke aanslae en pogings om my bydrae tot die struggle van die werkersklas en die armes in die land te verwoes. Die aanslae het die afgelope ruk teen my toegeneem. Ek kan nie anders as om hierdie saak in dieselfde lig te beskou nie.”

Vavi het Donderdag aan eNCA gesê hy het al talle doodsdreigemente ontvang. Klik hier om meer te lees.

Vavi het Saterdag gesê hy raadpleeg regsadviseurs en dat hy “gereed en bereid is om voor enige regmatige liggaam te verskyn” om sy naam in ere te herstel.

Vavi het tydens ‘n interne tugondersoek die vrou se naam bekend gemaak wat die klag teen hom gelê het en gesê dat hy ‘n buite-egtelike verhouding met haar aangeknoop het.

Hy voer aan die vrou probeer hom afpers met die bewerings van verkragting en dat sy in ‘n brief aan hom R2 miljoen in ruil vir haar stilte geëis het. Vavi se prokureur het ook die brief glo as afpersing beskou en ses dae later ‘n brief aan die vrou en haar eggenoot gestuur om hulle “in kennis te stel dat hulle besig is met afpersing en uitbuiting”. Tot dusver was daar glo nog nie reaksie op die prokureursbrief nie. “Sy het ook nog nie klagtes ingedien by die polisie nie,” het Vavi gesê.

Vavi se prokureur het Saterdag gesê ‘n klag van uitbuiting is teen die vrou aanhangig gemaak. Dup de Bruyn het gesê die klag is Donderdagaand by Sandton-polisiestasie ingedien. Kym Cloete, woordvoerder van die polisie, het die saak bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pieter ·

Klink nie na verkragting maar ek wonder of daar enige waarheid insteek dat sy lewe ingevaar is. Miskien hou hy dit voor om die aandag af te lei

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.