Video: Hier kom die “Boere-ninja”

Jaco Scherman Foto: Facebook

Jaco Scherman, ‘n “generaal” in ‘n verregse beweging, wat homself die “Boere-ninja” noem, het glo as ‘n sleutelkarakter in ‘n beweerde verregse sameswering om die ANC-leierskap te vermoor, na vore gekom.

Scherman is die eienaar van Panzer Protection in Springs aan die Oos-Rand en ‘n polisiereservis, berig CityPress. Hy het glo die week aan CityPress erken dat hy twee van die vier beweerde verregse samesweerders, wat ‘n bom by die ANC se verkiesingskonferensie in Mangaung wou geplant het, opgelei. Hy ontken egter enige betrokkenheid by hul planne.

Cornelia de Wet, ‘n verregse boer wat tans in aanhouding is, voer egter aan dat ammunisie en plofstof wat die polisie in Meimaand vanjaar op haar plaas opgespoor het, aan Scherman behoort. De Wet, wat in die gevangenis by Middelburg aangehou word, het gesê sy was deel van Scherman se verregse groep, berig CityPress verder. Sy beweer terreurdade is in haar teenwoordigheid beplan. Sy sê sy het kort voor haar inhegtenisname van die organisasie bedank en dat sy glo doodsdreigemente ontvang het. Sy het die polisie glo van die groep se bestaan in kennis gestel.

“Scherman se Panzer-maatskappy is niks meer as ‘n front om verregses vir oorlog en terreur op te lei nie,” het De Wet gesê. Sy voer aan sy was getuie tot planne om skole in hoofsaaklik swart buurte en taxi-staanplekke op te blaas. De Wet was ‘n lid van die Leeuwag en die Boerebeskermingsforum (BBF), beide militante verregse bewegings, waarvan Scherman glo die generaal was. Johan Prinsloo, lid en stigterslid van die BBF, is een van die vier verregse lede wat deur die polisie in hegtenis geneem is en van terrorisme en hoogverraad aangekla is.

Intussen berig OFM dat die polisie in die Vrystaat nie kommentaar wou lewer op bewerings dat Scherman as staatsgetuie teen die vier verregses sal optree nie. Prinsloo, Mark Trollip, Hein Boonzaaier en Marting Keevy is verlede week in hegtenis geneem nadat hulle glo die bomaanval by Mangaung beplan het.

Billy Jones, woordvoerder van die polisie, het gesê die bewerings dat Scherman twee van die verdagtes opgelei het, kom nie van die polisie af nie, en wil hy gevolglik nie daarop kommentaar lewer nie, berig OFM.

Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, het gesê die betrokke saak sal beslis nog inhegtenisnemings oplewer.

Die video is deur CityPressOnline op YouTube gelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.