Video: LP se pleidooi oor mediese gebruik van dagga

Mario Oriani-Ambrosini. Beeldmateriaal: eNCA

Mario Oriani-Ambrosini. Beeldmateriaal: eNCA

Die video volg onderaan die berig.

Mario Oriani-Ambrosini, LP van die IVP wat aan kanker ly, het Woensdag ʼn pleidooi aan president Jacob Zuma in die parlement gelewer dat die regering die mediese gebruik van dagga wettig maak, het die Sowetan Donderdag berig.

Hy het gesê dit is ʼn misdaad teen die mensdom om nié mediese marijuana in die land toe te laat nie. “Julle ken my al 20 jaar lank en ek is seker julle het al tydens ʼn paar geleenthede my vervloek,” het die tingerige Oriani-Ambrosini Woensdag tydens die nasionale vergadering in die debat oor Zuma se staatsrede gesê. “Ek praat vandag met julle as ʼn veranderde man. Ek is nie hier om enigiemand te opponeer nie, maar ek is hier om julle te smeek om wette in plek te stel om die talle weerlose mense in my toestand te help.”

Hy het erken dat hy al onwettig dagga gerook het as ʼn alternatiewe behandeling vir sy toestand en om pyn te beheer. “Ek moes al maande gelede gesterf het, maar ek is nog hier, want ek het die moed gehad om onwettige behandeling in Italië te ondergaan en hier in Suid-Afrika dagga te rook. Anders sou ek met morfien ingespuit wees en sou nie in staat wees om met u te praat nie,” het Oriani-Ambrosini gesê.

ʼn Nasionale taakspan is in November verlede jaar saamgestel om voorleggings oor die kwessie aan Aaron Motsoaledi, die minster van gesondheid, voor te lê. Volgens Oriani-Ambrosini bevestig dié voorlegging dat daar geen rasionele argument is om mediese marijuana van siek mense te ontneem nie.

Bronne: The Sowetan. Die video is deur eNCA vervaardig en op YouTube gelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rooipiet ·

Die probleem is dat indien die twakkies verligting bring (soos beweer) sal die ander 99% gebruik word vir “kicks” en die nagevolge daarvan is legio. Ons ken ons volkie en ons sal dan vinnig hoor dat dit ook help vir ingroei toonnaels, haarverlies ens. NEE verbrand dit op die ashoop !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.