Ten minste vyf mense is dood nadat tornado’s en swaar reënval Oklahoma, Amerika Vrydag getref het.
Dosyne mense is minder as twee weke gelede in dié gebied dood toe ‘n tornado ook die gebied getref het. Die Nasionale Weerdiens het aanvanklik beraam dat vyf tornado’s Oklahoma City Vrydag getref het, maar dit is moontlik dat dié getal aangepas kan word wanneer ondersoekspanne die gebied Saterdag besoek, berig ABC News.
Die mediese ondersoekbeampte het gesê ten minste vyf mense is dood weens die weerstoestande. ‘n Ma en haar baba is moontlik uit hul voertuig gepluk naby Interstate 40. “Hulle was altwee dood toe ons hulle opgespoor het,” het Betry Randolph van die Oklahoma-snelwegpatrollie gesê.
Talle snelweë is gesluit weens oorstromings en kraglyne wat op die pad geval het.
Plaaslike hospitale het berig dat hulle ten minste 89 pasiënte opgeneem het. Vier van die pasiënte is in ‘n kritieke toestand en drie was reeds dood toe hulle by die hospitaal aangekom het.
Goewerneur Mary Fallin het Vrydagaand aan ABC News gesê daar is kragonderbrekings, oorstromings en vragmotors wat op die snelweë omgeslaan het. “Ons is besorg oor mense op die snelweë,” het Fallin gesê. Die ergste deel van die storm het Oklahoma Vrydagaand tydens spitsverkeer getref.
Vier-en-twintig mense is dood, hospitale en skole is vernietig en woonbuurte het ernstige skade aangemeld nadat ‘n massiewe E-5-tornado Moore, Oklahoma op 20 Mei getref het.
http://youtu.be/TUkJUqn6uIs